Mosaiek Lydenstydgids: Jesus se vrae in lydingVoorbeeld

Mosaiek Lydenstydgids: Jesus se vrae in lyding

DAG 37 VAN 39

"En Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? En Petrus antwoord en sê vir Hom: U is die Christus"

- Markus 8:29 (AFR53).

Tydens Lydenstyd identifiseer ons met Jesus se pyn en lyding en is ons ook diep bewus van ons eie lyding of die lyding en pyn om ons. Lyding kan ons beeld van God verdraai, wat ons laat voel asof Hy ver, onbetrokke of in ons pyn afwesig is. Jesus leer ons dat God nie 'n veraf God is nie, maar intiem by ons lewens betrokke is, veral in ons oomblikke van lyding. Jesus het self lyding ervaar en belowe om saam met ons deur ons pyn te stap. Terwyl Jesus die vraag vra, weet Hy ook dat die dissipels se lyding nog voorlê, maar dat hulle erkenning van wie Hy is, hulle sal help wanneer hulle daardeur gaan.

In vandag se gedeelte fokus ons op die waarheid dat God by ons in ons lyding is. Wanneer Jesus vir ons vra: “Wie sê julle is Ek?” nooi Hy ons om te antwoord: “U is Emmanuel, God by ons, selfs in die moeilikste oomblikke van die lewe.” U is die Christus, die Een wat red en heel maak. Lydenstyd is ‘n tydperk wat ons lei om na te dink oor Christus se lyding, dis 'n tyd om te onthou dat God ons nie in ons pyn verlaat nie. Hy is by ons teenwoordig en bied vertroosting, krag en hoop.

Refleksie: Hoe het lyding jou beeld van God beïnvloed? Sien jy Hom as ver of in jou pyn by jou teenwoordig? Hoe kan hierdie Lydenstyd jou help om God se teenwoordigheid in jou lyding te ervaar en te vertrou dat Hy by jou is?

Gebed: Here, help my om diep bewus te wees van die ware beeld van God.

Dag 36Dag 38

Aangaande hierdie leesplan

Mosaiek Lydenstydgids: Jesus se vrae in lyding

Wat beteken ‘n lydingservaring vir jou? Hoe sou jy dit in ‘n paar woorde beskryf? Vir Jesus was dit ‘n reis van lyding en sterfte op pad na opstanding. Vir ons as gelowiges is lyding ‘n reis om Hom te ken en die krag van sy opstanding te ondervind deur te deel in sy lyding, en só aan Hom gelyk te word in sy dood. Tydens hierdie reis deur Lydenstyd, bring ons 40 dae deur met die vrae wat Jesus in die laaste dae van sy lewe gevra het.

More

Ons wil graag Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: mosaiek.com