Die Kosbare Geskenk Van VergifnisVoorbeeld
Moet ek ander vra om my te vergewe?
“As jy dus jou offer na die altaar toe bring en dit val jou daar by dat jou medemens ’n grief teen jou koester, los jou offer net daar voor die altaar en gaan maak eers vrede met daardie persoon. Kom dan terug en bring jou offer.” (Matteus 5:23-24)
Sonde is hoofsaaklik 'n probleem tussen God en mens. Maar as ons 'n medemens onreg aangedoen het, moet ons ook regmaak met hierdie persoon, indien enigsins moontlik.
Die verhaal oor Saggeus is hier 'n goeie voorbeeld. Hy was 'n hoofbelastinggaarder wat baie ryk was en bekend was as 'n "sondaar". Maar hierdie man het tot geloof in Jesus gekom en is gered. Dit het gelei tot 'n radikale verandering in sy lewe. Hy het gesê: “Here, ek gaan die helfte van my besittings aan die armes gee, en as ek iets van iemand met ’n slenter bekom het, gee ek dit vierdubbel terug.” (Lukas 19:8).
Die oomblik toe Saggeus se verhouding met God herstel was, het hy besef dat hy sy medeburgers onreg aangedoen het - waarskynlik deur te veel belasting te eis. Hy wou dinge regstel.
In Matteus 5 sê Jesus dat ons God nie kan aanbid as ons bewustelik in onenigheid met 'n "broer" leef nie, bedoelende 'n persoon wat ons ken, nie noodwendig 'n familielid nie. Ons moet eers versoen word en dan terugkom om ons gawe aan die Here te bied. Hierdie versoening sal altyd 'n opregte verskoning behels, en indien moontlik die herstel van wat ons verkeerd gedoen het, soos in die geval van Saggeus.
Is daar iemand wat “iets teen jou het” waarvoor jy om verskoning moet vra?
Aangaande hierdie leesplan
Die Bybel is duidelik hieroor: ons as mense is sondig en verdien om gestraf te word. Maar dit verduidelik ook dat God ons vergewe wanneer ons ons sondes bely en wegdraai daarvan. God stel ons ook in staat om onsself en ander te vergewe. Dit is baie bevrydend om te vergewe, en help ons om verhoudings te herstel. Hierdie leesplan bespreek 'n paar belangrike Bybelverse oor die gee en ontvang van vergifnis.
More
Ons wil graag GlobalRize bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://globalrize.org