25 Dae tot KersfeesVoorbeeld

25 Dae tot Kersfees

DAG 2 VAN 25

Maria prys God, vier die nuus wat sy ontvang het en besef dat sy nou deel is van hoe God in sy wysheid en alwetendheid dit goed gedink het om haar deel van hierdie wonderlikste verhaal te maak.

Maria is op hierdie stadium by Elisabet, die swanger ma van Johannes, die Doper. Beide Maria en Elisabet is mense van eenvoudige agtergrond en rang. Elisabet is oud en onvrugbaar en Maria is jonk en 'n maagd. Hulle is baie onwaarskynlike kandidate om deel van hierdie verhaal te wees. God ontmoet die eenvoudiges, dié wat oorgesien en agtergelaat is. Dit blyk uit die Skrif dat God dit goed vind, dalk selfs vreugde daarin vind, om nie net eenvoudige mense te gebruik nie, maar ook onwaarskynlike mense.

Beide Maria en Elisabet is helde in die verhaal. Lukas, die skrywer van die evangelie van Lukas, fokus veral op die geloof van die twee vroue en hulle opregtheid voor die Here. Hy skryf sy evangelie aan Teofilus (Lukas 1:1) en hy skets beide die vroue as persone by wie ons waardevolle lesse kan leer. Die waarde daarin is om God te vertrou, om ons lewens aan sy wil te onderwerp en om vreugde te vind in wat dit in en deur ons doen.

Soos die twee vroue, is ons ook eenvoudige mense wat 'n wonderbare God dien. Kyk na hulle gesindheid teenoor die Here. Maria sê: "Want Hy het omgesien na sy nederige diensmeisie, en nou sal geslag na geslag my geseënd noem" (Lukas 1:48 NLV). Elisabet het op haar beurt vroeër gesê: "Wat ’n eer is dit dat die ma van my Here my besoek!" (Lukas 1:43 NLV).

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

25 Dae tot Kersfees

Hierdie 25-dag leesplan berei ons harte vir Kersfees voor — spesifiek die boodskap van Kersfees en die rede vir Kersfees — Jesus. Kersfees en die aanloop na Kersfees toe, is 'n wonderlike tyd van die jaar. Daar is opwinding, nostalgie, afwagting en vakansie in die lug. Vir elke kind van God moet hierdie dinge nie ons aandag aflei van die rede en die boodskap van Kersfees nie.

More

Ons wil graag Lewende Woord Midrand bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.hallokerk.co.za/