Man Van God: Hoe Lyk 'n Man Van God?Voorbeeld
Manne van God leef met integriteit en gaan nie kompromieë aan nie
Manne van God haat sonde, rasionaliseer nie daaroor nie en hou hulle nie op met twyfelagtige dinge nie. Hulle bely elke dag alle bewuste sonde en breek daarmee.
Dit is manne wat geregtigheid en reg liefhet, hulle nie laat omkoop of by enige vorm van korrupsie betrokke raak nie. Dit is manne wat nie onreg verdra nie.
Hulle dien nie God én geld nie (Matteus 6:24). Hulle maak seker dat hulle vry is van enige liefde vir geld en elke vorm van gierigheid – want gierigheid is soos die sonde van afgodery (Kolossense 3:5).
Sulke manne praat die waarheid en loop nie ter wille van gewildheid krom paaie nie.
Dit is manne wat praat wanneer die reg van armes, weeskinders, weduwees en hulle wat geen mag het nie, aangetas word.
Hulle sê nee vir woede en woede-uitbarstings.
Manne van God eer hulle ouers en behandel hulle met respek.
Hierdie manne is nie beïndruk met menslike eer en erkenning nie, soek nie die goedkeuring of lof van die wêreld nie.
Hulle voel dikwels soos Paulus wat gesê het hy is die “geringste van alle gelowiges is en die grootste van alle sondaars” (Efesiërs 3:8; 1 Timoteus 1:15-16), want hulle sien hulle eie gebrokenheid en tekortkominge raak.
Vir hulle weeg die eer van mense, titels, posisie, geleerdheid en populariteit nie op teen hulle keuse om die werk van God te doen nie. Hulle doen alles asof hulle dit vir die Here doen.
Godsmanne jaag nie geld, posisie, besittings, motors, duur klere en huise na nie. Hulle vermors nie geld op dinge wat nie ewigheidswaarde het nie en vind nie hulle identiteit in hierdie dinge nie.
Godsmanne laat toe dat God hulle dissiplineer en louter – al is dit deur die vuur van swaarkry, vervolging, siekte, vals beskuldigings, kritiek, finansiële tekorte, teenstand van familie en vriende en selfs godsdienstige leiers. Sulke manne word in hierdie situasies nie bitter nie. Hulle beskerm hulle harte, word nie opstandig nie en weerstaan alle gevoelens van verontregting. Hulle verdedig hulleself nie en is nie op vergelding ingestel nie.
‘n Man van God maak nie onderskeid tussen ryk of arm, wit of swart, etnisiteit of taal nie. Hulle verag nie mense wat deur God geskep is nie.
Hulle leef volgens God se standaard: God kom nie af na mense se vlak nie. Hy oordeel volgens sý maatstaf. Sy Woord bly waar ongeag of mense dit glo of nie, ongeag van wat mense deur die eeue daaroor te sê gehad het. Hy verander nie die waarheid en sy standaard nie.
Aangaande hierdie leesplan
Ons het Godsmanne in die kerk nodig. Dit is manne wat ten volle aan God oorgegee is en in die krag van die Heilige Gees lewe. Daar is vandag 'n gebrek aan sulke manne en vaders. In hierdie leesplan probeer ek verduidelik hoe die lewe van 'n man van God behoort te lyk en hoe dit kan lyk indien iemand homself aan God oorgee.
More
Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com