Man Van God: Hoe Lyk 'n Man Van God?Voorbeeld
Manne van God leef teenoor hulle kinders met die hart van God die Vader
Godsmanne luister na hulle kinders. Hulle antwoord hulle kinders wanneer die kinders hulle iets vra. Hulle respekteer hulle kinders. Wanneer hulle praat, is dit met woorde wat hoop en genesing gee.
‘n Man van God sê vir sy kinders dat hy vir hulle lief is. Dit is ‘n soort liefde wat nie aan enige prestasie gekoppel is nie. Manne van God trek nie sommige kinders voor nie.
‘n Man van God maak tyd vir sy kinders en leer hulle ken. Hulle probeer om te verstaan wat hulle kinders dink, wat hulle vrese en drome is en soek na maniere om hulle te bedien met wysheid.
‘n Man van God is geduldig met sy kinders, help hulle wanneer hulle sukkel en vergewe hulle wanneer daar rebellie, opstand en sonde is. Manne van God neem nie aanstoot wanneer sy kinders verkeerd teenoor hom optree nie. Hulle is nie kort van draad nie.
‘n Man van God skreeu nie op sy kinders nie; pas nie onredelike straf toe vir verkeerde optrede nie; vergewe wanneer sy kinders sê hulle is jammer, word nie verbitterd teenoor sy kinders nie.
Godsmanne bid vir hulle kinders – staan as priester van sy huis voor God om vir sy kinders te bid. Kinders wie se pa’s nie ‘n heining van gebed rondom hulle span nie, se lewens is ‘n oop teiken vir die aanvalle van die bose.
‘n Man van God vra vir God wysheid om hom te help om wyse raad aan sy kinders te gee. Hy help hulle om na die Gees van God te luister en Hom onvoorwaardelik te gehoorsaam deur self ook na die Heilige Gees te luister.
‘n Man van God maak nie beloftes aan sy kinders wat hy nie nakom nie – al is dit tot sy eie skade en ongerief.
Dit is die soort manne wat met hulle woorde en optrede sekuriteit bied vir hulle gesinne; hulle kinders die waarheid leer sodat hulle kan groei tot geestelike volwassenheid. Dit is manne wat 'n geestelike nageslag oprig wat God sal dien en die nood in die wêreld sal help verlig.
Aangaande hierdie leesplan
Ons het Godsmanne in die kerk nodig. Dit is manne wat ten volle aan God oorgegee is en in die krag van die Heilige Gees lewe. Daar is vandag 'n gebrek aan sulke manne en vaders. In hierdie leesplan probeer ek verduidelik hoe die lewe van 'n man van God behoort te lyk en hoe dit kan lyk indien iemand homself aan God oorgee.
More
Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com