Man Van God: Hoe Lyk 'n Man Van God?Voorbeeld

Man Van God: Hoe Lyk 'n Man Van God?

DAG 2 VAN 8

Manne van God leef in die krag van die Heilige Gees

‘n Man van God soek daagliks die krag van die Heilige Gees en leef in daardie krag. Hy is nie tevrede om sonder die krag en die leiding van die Gees te leef nie. Hy weet dat in eie krag hy niks van blywende waarde op aarde kan vermag nie.

Manne van God laat hulle nie mislei deur allerlei emosionele manifestasies en argumente wat met die krag van die Gees van God niks te doen het nie. Hulle soek die Here se salwing vir hulle werk op elke terrein van die lewe. Hulle dra die vrug van die Gees: "Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing" (Galasiërs 5:22-23).

Dit is die soort manne deur wie God herskepping teweegbring: in hulle gesinne, gemeentes, gemeenskappe en elke plek in die samelewing waar hulle ‘n invloed het. Dit is manne wat vir die kragtige uitstorting van die Heilige Gees op die kerk, hulle huwelike en hulle kinders bid.

Manne van God bid vir die krag van die Heilige Gees sodat hulle met krag kan getuig en mense tot bekering kan kom (Handelinge 1:8).

Manne van God leef in die krag van die Heilige Gees en getuig van Jesus se kruisiging en opstanding uit die dood (Handelinge 4:33). Hulle bid totdat hulle met die Heilige Gees vervul is en met vrymoedigheid die woord van God kan verkondig (Handelinge 4:31).

Manne van God gebruik die gawes wat die Heilige Gees aan hulle gee en laat Hom toe om daardie gawes te gebruik om tot seën vir ander gelowiges te wees en om die wêreld met die evangelie te bereik.

Hulle verstaan dat hulle nie vanuit hulle eie krag kan leef nie — dat God aan hulle die Heilige Gees as Helper gegee het om te kan bid (Romeine 8:26-27). Dit is manne vir wie die Heilige Gees hulle Helper is om hulle in die waarheid te lei en te leer (Johannes 14:16, 26; 16:13).

‘n Man van God weerstaan nie die Heilige Gees nie (Handelinge 7:51), lieg nie vir die Gees nie (Handelinge 5:1-5), bedroef nie die Gees nie (Efesiërs 4:30), blus nie die Gees uit nie (1 Tessalonisense 5:19) en beledig nie die Heilige Gees van genade deur ongeloof nie (Hebreërs 10:29).

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Man Van God: Hoe Lyk 'n Man Van God?

Ons het Godsmanne in die kerk nodig. Dit is manne wat ten volle aan God oorgegee is en in die krag van die Heilige Gees lewe. Daar is vandag 'n gebrek aan sulke manne en vaders. In hierdie leesplan probeer ek verduidelik hoe die lewe van 'n man van God behoort te lyk en hoe dit kan lyk indien iemand homself aan God oorgee.

More

Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com