Onvoldoende antwoorde - Daar is nie antwoorde vir alle vrae nieVoorbeeld

Onvoldoende antwoorde - Daar is nie antwoorde vir alle vrae nie

DAG 5 VAN 9

Onvoldoende antwoorde (5)

Jesus se antwoord aan Johannes die Doper terwyl hy in die tronk was (Matteus 11:2-6), was waarskynlik onvoldoende vir sy verwarde gemoed. Miskien het hierdie woorde hom nie ten volle gerusgestel nie. Miskien het dit nie al die twyfel en verwarring weggeneem nie. Maar dit was hoe Jesus hom geantwoord het – dit was die enigste antwoord wat Jesus hom gegee het.

Daar sal dae kom dat God nie sal doen wat ons verwag nie en doen wat ons nie verwag nie. Dan moet ons onthou waarom God ons geskep het. Hy het ons geskep vir Homself. Dit gaan nooit oor ons nie. Ons is nie hier vir onsself nie. Ons is hier vir God. Ons is hier om aan sy verwagtings te voldoen en nie Hy aan ons eie nie. En vreemd genoeg sê God dikwels nie vir ons baie duidelik wat sy verwagtings is nie.

Om God te ken, moet ons Hom deur geloof ken. Die regverdige sal deur die geloof lewe. Geloof verstaan nie altyd nie. Geloof glo in God én glo God al verstaan die een wat glo baie keer nie die weë van God nie. Wanneer jy God nie verstaan nie, vertrou dan sy karakter, vertrou God se hart: “As ek jý was, sou ek my tot God wend en my saak aan Hom voorlê. Wat God doen, is groot en ondeurgrondelik, wonder op wonder” (Job 5:8-9).

Wie glo dat God beheer verloor het toe Salome Johannes die Doper se kop op ’n skinkbord gevra het, verstaan niks van die soewereiniteit van God nie. En wie beweer dat hy volledig verstaan waarom God dit gevra het, praat uit homself. Dit is een van die talle vrae waarop God ons nog nie geantwoord het nie.

So sal daar baie dinge in jou lewe wees wat gaan gebeur. Mense sal jou dinge aandoen. Mense sal deur God toegelaat word om die “dood” in jou te werk, meer nog, hierdie mense word deur God persoonlik uitgesoek, sodat Jesus daardeur verhoog kan word. Jy sal nie met menslike redenasie kan verstaan hoe jou “dood”, skande, lyding, vervolging, pyn, siekte, eensaamheid en veragting die Vader kan vereer en Jesus verhoog nie.

Maar God weet wat Hy doen. Die evangelie gaan jou iets kos. Ons evangelie gee die ewige lewe, baie vreugde, en daar is ook onbeantwoorde vrae. Uit die onbeantwoorde vrae leer God ons gehoorsaamheid. Gehoorsaamheid kom dikwels in situasies waar ons nie weet van die uiteinde van ons gehoorsaamheid gaan nie wees nie.

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Onvoldoende antwoorde - Daar is nie antwoorde vir alle vrae nie

Deur die loop van die lewe ervaar almal van ons pyn, verwerping, onsekerheid, konflik en teleurstelling. Dit lei onvermydelik tot vrae oor die lewe en die doel van die lewe. Daar is ongelukkig nie voldoende antwoorde op alle vrae nie. God gee egter meer as voldoende antwoorde in die Skrif sodat ons sinvol en met vreugde kan lewe.

More

Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com