Die boek Jona: Wanneer God se doel nie deel van jou planne is nieVoorbeeld

Die boek Jona: Wanneer God se doel nie deel van jou planne is nie

DAG 4 VAN 4

Kom ons onthou ter afsluiting van ons kykie na die boek van Jona die aanloop tot hierdie laaste hoofstuk. Ninevé het pas in reaksie op ’n preek van net agt woorde ’n massiewe herlewing beleef. En God het die mense se berou en bekering gesien. Hy het die ramp wat Hy oor hulle sou bring, afgeweer.

Dan begin hoofstuk vier met ’n skokkende vers: Jona is woedend! In plaas van om te juig oor die mense van Ninevé wat hulle na God gekeer het, is hy hewig ontsteld. En die gesprek tussen hom en God in hierdie hoofstuk toon waarom.

Jona was bly om gered te word, maar hy het dit gehaat dat sy wrede, bose, gewelddadige, barbaarse vyande daardie selfde redding ontvang. Sy selfgesentreerde skynheiligheid is die hooftema in die res van die hoofstuk. Jona se blydskap oor God se genade teenoor hom staan in teenstelling met sy woede-uitbarsting wanneer God sy genade aan ander bied.

Dan eindig die verhaal sonder oplossing. Die gordyn sak en ons het geen idee wat Jona verder gesê of gedoen het nie. Waarom? Omdat die punt van hierdie boek nie is wat Jona gesê of gedoen het nie. Dit is wat óns as die lesers en hoorders gaan doen.

Dus laat ek jou met sewe vrae wat ons in ons eie lewens moet vra nadat ons die boek van Jona gelees het.

1. Wou jy al ooit eerder jou eie ding doen as God se wil? Hoeveel keer het jy al presies die teenoorgestelde gaan doen, of dalk net bly sit waar God vir jou gesê het om op te staan om iets te gaan doen? In watter opsig weerstaan jy selfs nou God se wil in jou lewe?

2. Is jy geneig om eerder te bly by die gemak van mense en plekke wat aan jou bekend is, as om die risiko te neem om na mense en plekke te gaan wat vreemd is vir jou? Hoe gretig is jy om te gaan, veral as die mense en plekke jou bedreig of jou as vyand sien?

3. Hoe dikwels bid jy vir en verlang jy die goeie vir ander mense wat as jou vyande beskou kan word? As ’n prentjie van jou gebedslewe nou op ’n skerm vertoon sou word, hoe dikwels sal jou vyande daar verskyn? Is jy ernstig dat jy die goeie vir hulle verlang — ernstig genoeg om ’n gebed aan hulle af te staan — of wil jy eintlik sien dat hulle misluk?

4. Het jy al ooit die regverdigheid van God of die genade van God bevraagteken? Het jy al ooit gesien dat goddelose en slegte mense vriendelik en goed behandel word en gewonder: “Waarom?” Of ten minste: “Waar is u, God?” Wanneer iemand iets verkeerds of selfs boos doen en nogtans voorspoedig is, wonder jy hoekom, of hoe dit volgens God se ekonomie reg kan wees?

5. Is dit moontlik vir jou om die karakter van God te ken, maar tog nie die deernis van God te hê nie? Is dit moontlik dat jy ’n goeie, suiwer teologiese agtergrond het — die regte Bybelse begrip van wie God is en hoe God die wêreld lief het — en tog sukkel of misluk daarin om liefde vir ander mense (veral dié wat liefdeloos teenoor jou optree) te toon?

6. Gee jy soms meer om oor jou aardse begeertes as ander se ewige bestemming? Is daar dinge — besittings, strewes en drome in jou lewe, plesiertjies waarvan jy hou – wat jy belangriker ag as om mense na die ewige lewe te lei?

7. Wat stel jy werklik eerste: ’n gemaklike lewe tussen en vir jou eie mense, of die verspreiding van die evangelie na alle nasies? Die wense en doel van God vir die wêreld het altyd weerstand ontvang van nasionalistiese mense van God. Dit is Jona se verhaal. En dis ons verhaal ook.

Ons is Jona. Sy verhaal is soos ’n spieël wat ons harte, ons gedagtes, ons stryd en ons sondes na ons terugkaats. Ek hoop ons almal gaan hiervandaan weg met die besef, nie van Jona se onbesonnenheid nie, maar van ons eie. Dit is wel moontlik vir ons om soos Jona die genade van God te ontvang, maar tog weerstand te bied teen sy opdragte vir ons. Sy opdragte en sendings kom uiteraard nie altyd natuurlik vir ons nie. In en uit onsself is ons soos Jona en sondig: Ons hou van gemak, ons omgee vir ander skiet te kort, ons hou nie van God se opdragte nie, en ons hou selfs nie van God se karakter nie. Maar Jesus maak ons ’n nuwe skepsel, bevry van sonde met ’n heeltemal nuwe doel op hierdie planeet: die verspreiding van sy reddingsboodskap aan elke persoon in elke uithoek van die aarde.

Skrif

Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Die boek Jona: Wanneer God se doel nie deel van jou planne is nie

Die boek Jona is alles behalwe ’n feëverhaal oor ’n vis, maar vertel van God se genade, medelye en liefde – selfs vir weglopers. Dit wys God se vasbeslotenheid dat sy boodskap regoor die wêreld gehoor sal word. Pastoor David Platt toon dan ook in sy vierdagleesplan hoe vasbeslote God is dat sy Woord na alle nasies versprei sal word en dat Hy sy mense gebruik om hierdie taak te verrig.

More

Ons wil graag Radical bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://radical.net/