Die boek Jona: Wanneer God se doel nie deel van jou planne is nieVoorbeeld
Ons het gister geëindig met Jona wat in die see gegooi is om waarskynlik sy einde tegemoet te kom. Die wind en die golwe was nou stil en die matrose op die skip het God aanbid.
Met die laaste sin van die eerste hoofstuk van Jona verskuif die toneel na die water, waar Jona klaarblyklik toe nie gesterf het nie. (Daar is ’n meningsverskil oor waar hierdie vers staan, met die Hebreeuse Bybel wat dit die eerste vers in hoofstuk twee maak.) Verbeel jou jy staan nou in Jona se skoene. Jy het pas die water met ’n slag getref en skielik is die golwe om en bo-oor jou. Kort voor lank begin jy sukkel om kop bo water te hou en snak jy na asem voordat jy uiteindelik begin sink in wat voel soos ’n kalm, stil graf van water wat jou toevou … en dan kom vers 17.
Hierdie vers bring baie vrae, nie waar nie? Watter soort vis is dit wat Jona insluk? Hoe is dit menslik moontlik vir ’n mens om vir drie dae binne-in ’n vis te oorleef? Maar hier is die gegewe: die skrywer van Jona beantwoord nie ons vrae nie. Die punt blyk te wees dat hierdie ’n goddelike daad was wat nie deur die mens herhaal of verduidelik kan word nie. Klaarblyklik stel God minder as ons belang in die drama wat hom in die vis se maag afspeel. Wat God interesseer, is die drama wat hom in Jona se hart afspeel.
In hoofstuk twee kry ons ’n kykie na wat in sy hart aangaan wanneer ’n benoude Jona begin bid. Wat moet ons dus aflei van Jona se gebed en God se reaksie daarop, naamlik ’n bevel aan die vis om hom terug op droë grond uit te spoeg?
God betoon genade aan sondaars wat dit die minste verdien.
Nêrens in sy gebed het Jona sy sonde bely of laat blyk hy wil tot inkeer kom nie. Nie een keer nie. Hy som die slegte dinge op wat God oor hom gebring het en wys God op die goeie dinge wat hý, Jona, gedoen het. Hy neem geen verantwoordelikheid nie. Tog bly God op sy spoor. God laat nie toe dat hy sterf nie. God hoor sy noodroep. Hierdie verhaal gaan oor God en sy genade. Jona verdien dit nie, maar God gee dit. Sonder om die voor-die-hand-liggende te oorbeklemtoon: Ons het dieselfde genade nodig. Elkeen van ons is ’n sondaar wat niks verdien nie. Ons het almal teen God in opstand gekom. Almal van ons is geneig om God te blameer vir die gevolge wat ons moet dra, asof ons sonde niks daarmee te doen het nie. Die goeie nuus van Jona is dat God genadig is met selfs diegene wat dit die minste verdien.
God kan lewe bring waar die dood heers.
Hier begin Jona se storie reguit na Jesus wys. Jona het oordeel vir sy sonde ervaar; Jesus het oordeel vir óns sonde ervaar. Jona het gelewe ná drie dae binne die vis; Jesus het gelewe ná drie dae in ’n graf. God kan ’n plek van die dood een van verlossing en lewe maak.
God is soewerein oor alle redding en saligheid.
Ons het in hoofstuk een met die wind en golwe gesien dat God se soewereiniteit absoluut is. Hy het die hoogste gesag oor alle dinge, insluitend die natuur. Ons sien dit weer in hoofstuk twee wanneer God met ’n vis praat en dit hom gehoorsaam. En hoekom doen hy dit? Om verlossing te bewerkstellig. Jona se gebed mag grotendeels verkeerd gewees het, maar tog omvat sy laaste woorde ’n belangrike waarheid: Verlossing en saligheid behoort aan God. Hy alleen is die gewer. Dit behoort aan Hom en Hy het gekies om dit te gee aan mense van elke nasie, stam en taal — wat jou ook insluit. Miskien het jy al tou opgegooi en God gelos, maar Hy het jou nog nie gelos nie. Hy het jou lief en wil jou van jou sonde verlos. Hy wil jou in ’n verhouding met Hom intrek om Hom vir alle ewigheid te geniet. Hy het die mag om dit te doen — hoewel Hy dit dalk nie so dramaties sal laat gebeur soos in Jona se geval deur bevele aan ’n vis nie — omdat God soewerein heers oor alle saligheid.
Aangaande hierdie leesplan
Die boek Jona is alles behalwe ’n feëverhaal oor ’n vis, maar vertel van God se genade, medelye en liefde – selfs vir weglopers. Dit wys God se vasbeslotenheid dat sy boodskap regoor die wêreld gehoor sal word. Pastoor David Platt toon dan ook in sy vierdagleesplan hoe vasbeslote God is dat sy Woord na alle nasies versprei sal word en dat Hy sy mense gebruik om hierdie taak te verrig.
More
Ons wil graag Radical bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://radical.net/