Die boek Jona: Wanneer God se doel nie deel van jou planne is nieVoorbeeld
Voordat ons met Jona se verhaal begin, kan ons net kortliks kyk na die enigste ander plek in die Ou Testament waar hy genoem word, naamlik in 2 Konings 14:25. Hierdie enkele vers gee ons ’n belangrike konteks as ons na Jona kyk.
Jare voor die gebeure wat in die boek van Jona beskryf word, het God aan Jona geopenbaar dat Israel van die stede in die noorde gaan herower. Sodoende sou Israel sy grens tot binne die grondgebied van sy berugte wrede buurman, Assirië, uitbrei. Jona het hieroor voor die koning van Israel geprofeteer en toe sy profesie bewaarheid word, het hy ietwat van ’n nasionale held geword.
Dit is die profeet én die geo-politieke spanning waarteen die verhaal afspeel wat Jona 1:1 sonder meer laat begin met: “En …”, of in Engelse vertalings met “Now …” Die Hebreeuse woord hier is die een wat gebruik word om ’n storie in te lei, amper iets soos: “Lank, lank gelede …” Ons word onmiddellik binne die gebeure geplaas. Dit is asof die skrywer van die boek Jona amper uit die bloute wegval met “Jona het ’n woord van God ontvang wat hy nie verwag het nie, en dit het hom verblind.”
Die woord — God se opdrag aan Jona — was om op te staan en na die vreemde stad Ninevé, diep in die hart van Assirië, te gaan.
Die gebeure wat in hoofstuk een volg, gee besonderhede van Jona se drastiese reaksie: Hy vlug, klim op ’n skip, beland in ’n woeste storm en word teen die einde van die hoofstuk — op sy eie aandrang — deur sy medereisigers oorboord gegooi.
Wat sê hoofstuk een se vertelling vir ons oor ontkenning en ongehoorsaamheid?
God se soewereiniteit is absoluut. Sy toorn is ’n werklikheid. En sy genade is onbegrens.
Die storm, as middelpunt van die verhaal, bring hierdie drie waarhede na vore. Wind steek nie sommer net op nie; God laat dit waai. Golwe staan nie vanself op nie; God beheer hulle. Dit is ’n bewys van beide sy soewereiniteit en sy toorn teenoor sondige mense. Tog is selfs dít ’n manifestasie van sy genade, want Hy gebruik die storm om nie net vir Jona nie, maar ook die heidense skeepsreisigers, na Hom te bring.
Ons hardloop weg van God se woord in ons lewens en van die proklamering daarvan in ander se lewens.
Kom ons erken dit: Ons sien onsself in Jona. Waarom reageer die hele skepping — die wind, die golwe, die reën — op God se bevele, terwyl ons, soos Jona, vermetel genoeg is om reguit vir God nee te sê? Hy het aan elke volgeling van Jesus die opdrag gegee om voor ander van Jesus te getuig. Hardloop jy soms weg van daardie opdrag? Indien wel, wat is die verskil tussen jou en Jona?
Ons sonde trek ons onvermydelik af na die dood toe.
Kyk wat gebeur met Jona weens sy sonde: Hy wil nie eens meer lewe nie! Dit is hoe gedisoriënteerd, misleidend en gevaarlik sonde is. Solank ek en jy van die Woord van God en die proklamering daarvan in ander se lewens wegvlug, sal ons ook gedisoriënteerde, misleide en uiteindelik donker lewens lei.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Die boek Jona is alles behalwe ’n feëverhaal oor ’n vis, maar vertel van God se genade, medelye en liefde – selfs vir weglopers. Dit wys God se vasbeslotenheid dat sy boodskap regoor die wêreld gehoor sal word. Pastoor David Platt toon dan ook in sy vierdagleesplan hoe vasbeslote God is dat sy Woord na alle nasies versprei sal word en dat Hy sy mense gebruik om hierdie taak te verrig.
More
Ons wil graag Radical bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://radical.net/