Die boek Jona: Wanneer God se doel nie deel van jou planne is nieVoorbeeld

Die boek Jona: Wanneer God se doel nie deel van jou planne is nie

DAG 3 VAN 4

Wanneer die meeste mense nadink oor die wonderwerk in die boek van Jona, dink hulle onmiddellik aan hoe Jona volgens hoofstuk twee in die maag van die vis oorleef het. Dit is vanselfsprekend wonderbaarlik. Maar ek sou die stelling waag dat wat in hoofstuk drie gebeur het selfs ’n groter wonderwerk was. Vandag se stuk gee ’n weergawe van een van die grootste herlewings — indien nie die grootste ooit nie — in die geskiedenis van die wêreld.

Die eerste vyf woorde van die hoofstuk is presies dieselfde as die eerste vyf woorde van hoofstuk een: “Die woord van die Here het tot Jona gekom.” Al verskil is dat dit “vir die tweede keer" gebeur. Jona kry ’n tweede kans. Dit is wat oor en oor in die Bybel gebeur — die God wat tweede kanse aan mense bied. Daar is nie een persoon in die Skrif, behalwe Jesus, wat nie in een of ander stadium ’n tweede kans nodig het nie. Abraham, Moses, Dawid, Petrus, Paulus ... jy, ek. God is ’n God van tweede kanse. Hy bly genadig en liefdevol op die spoor van sy mense, selfs wanneer ons ongehoorsaam aan Hom is.

Dit is wat in hoofstuk drie gebeur, nie net met Jona nie, maar ook met die mense van Ninevé. Toe Jona in die stad aankom en die boodskap oordra wat God hom gegee het — ’n preek van agt woorde — het God ’n tweede kans gebied. En die mense het dit geglo! Hulle het hulle bekeer. Van die hoogstes tot die laagstes, van die koning tot die vee, die hele stad het na God gedraai, vir hul sondes gevas en gepleit om God se genade. Dit was ’n algehele, allesomvattende nasionale herlewing.

Wat beteken hierdie wonderbaarlike gebeure en God se reaksie daarop vir ons?

God versag wanneer ons tot bekering kom.
God haat sonde en boosheid. God haat ook die gevolge van sonde en boosheid. Hy was oorgehaal om ’n oordeel oor die stad Ninevé te bring … totdat hulle hul bekeer het. Toe het Hy homself gekeer. Net ter verduideliking, dit was nie asof God van plan of gedagte verander het nie. Sy wil het vas gestaan: Ninevé sou verwoes word as gevolg van die inwoners se sonde. Tog het Hy in sy genade ’n bemiddelaar — Jona — gestuur om aan hulle ’n tweede kans te bied. Is dit nie die evangelie nie? Weens ons sonde staan ek en jy onder die oordeel van God en verdien ons die gevolge van ons sonde. Maar prys die Here! God het ’n Middelaar gestuur — nie met die naam van Jona nie, maar Jesus. Wanneer ek en jy berou toon en ons ons bekeer, keer God die ewige toorn wat ons verdien weg. Bekeer jou dus! Draai vandag weg van jou sonde, sommer nou dadelik. Die sonde sal jou afwaarts druk na rampspoed en verwoesting. Draai weg daarvan, miskien vir die eerste keer, of vandag op ’n nuwe, vars manier. Doen wat die koning van Ninevé gedoen het. Glo en vertrou dat God beter as jy weet wat die beste vir jou lewe is. Bekeer jou en God sal jou tegemoet kom.

Ons word geroep om ander tot bekering te roep.
Nadat hy uit die maag van die vis gered is, het Jona sy tweede kans gebruik om die mense van Ninevé aan te spoor om na God te draai. Jare later sien ons dieselfde ding binne die vroeë kerk gebeur. Nadat hulle gered is, het nuwe volgelinge van Jesus die boodskap vanaf Jerusalem tot Judea en Samaria en verder tot aan die eindes van die destydse wêreld verkondig: Bekeer julle! Bekeer julle en word gered! Dit is die boodskap wat ons ook ontvang om in ons stede, op ons skoolgronde en universiteitskampusse, binne ons werkplekke en oral in ons woonbuurte te verkondig. Drie miljard mense in die wêreld het nog nie hierdie boodskap gehoor nie. Kom ons verander dit. Kom ons preek en leef die evangelie uit. Laat ons sien en ervaar hoe nasies, volke, stamme, stede, gemeenskappe, kampusse, gesinne, mans, vrouens, seuns en dogters verander word deur die Woord van God, die liefde van God en die krag van God. Kom ons kyk hoe nasies hulle berouvol bekeer en God hulle op wyses tegemoetkom wat vir hulle ewige goedheid, guns en heerlikheid inhou. Wanneer ons ons berouvol bekeer en God se genade ontvang, word ons geroep om ander uit te daag om dieselfde te doen.

Skrif

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Die boek Jona: Wanneer God se doel nie deel van jou planne is nie

Die boek Jona is alles behalwe ’n feëverhaal oor ’n vis, maar vertel van God se genade, medelye en liefde – selfs vir weglopers. Dit wys God se vasbeslotenheid dat sy boodskap regoor die wêreld gehoor sal word. Pastoor David Platt toon dan ook in sy vierdagleesplan hoe vasbeslote God is dat sy Woord na alle nasies versprei sal word en dat Hy sy mense gebruik om hierdie taak te verrig.

More

Ons wil graag Radical bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://radical.net/