Alles NuutVoorbeeld

All Things New

DAG 4 VAN 5

As daar een ding is wat vir my 'n persoonlike uitdaging was met die bestudering van 2 Korintiërs, was dit dat Paulus nie weggeskram het van moeilike verhoudings nie. Ons sal later daarby kom, maar die Korintiërs het 'n paar probleme met Paulus gehad en een daarvan was dat hy nie opgedaag het soos hy gesê nie. Voordat Paulus begin om sy optrede te verduidelik, maak hy eers sy hart teenoor hulle oop. 

In 1 Korintiërs het die kerk nie goed teenoor Paulus gereageer nie. Paulus se medewerker, Timoteus, het die Korintiërs besoek nadat Paulus daardie brief geskryf en belangrike probleme aangeroer het — morele sake, korrupte geloof en groepsvorming — om maar net 'n paar op te noem. As 'n gevolg daarvan het Paulus vanaf Efese na Korinte gereis om persoonlik met die Korintiërs te gaan praat, waarna hy in 2 Korintiërs 2:1-2 verwys as 'n besoek wat "op droefheid uitloop."

Vandag se teks onthul dat die Korintiërs Paulus se motiewe bevraagteken waarom hy nie gekom het nie. Alhoewel hy hulle baie liefgehad het, het 'n groep teenstanders die Korintiese kerk opgesweep en twyfel gesaai oor die waarheid en opregtheid van Paulus se toewyding. Mag ek hier byvoeg dat dit vir my persoonlik baie erg is om te verduur. Ek haat dit om misverstaan te word, veral in 'n situasie waar ek eintlik ekstra moeite gedoen het, opgeoffer het, standpunt ingeneem het en 'n ekstra myl saam met iemand gestap het. Ek sê nie dit gebeur dikwels met my nie, maar wanneer dit gebeur, worstel ek met twee basiese besluite: 1. Vertrou ek God met my reputasie, met 'n skoon gewete voor Hom? (vers 12) 2. Kan ek die mense wat my beskuldig het, steeds liefhê? 

Dit word selde positief bedoel as iemand vir jou sê dat jy op jou verdediging oor iets is. Ons mag dink die enigste Goddelike reaksie is om stil te bly en nooit te verduidelik nie. (Spreuke 9:8: "Moenie 'n ligsinnige mens probeer opvoed nie ...") Soms is die verduideliking van ons optrede egter nie net gepas nie, maar ook noodsaaklik vir die verhouding. Hoe weet jy dan wanneer jy jouself moet verdedig en wanneer nie? Hier is 'n bepalende toets wat ek gebruik: as my selfverdediging gemotiveer word deur selfbeskerming en gekenmerk word deur trots, woede, vrees of eiegeregtigheid, is dit waarskynlik uit my vlees. Wanneer my selfverdediging gemotiveer word deur liefde vir die ander persoon en gekenmerk word deur deursigtigheid, nederigheid, goedheid en opregtheid, is dit uit die Gees. Let daarop dat dit regdeur die brief duidelik is dat Paulus se verdediging nie oor homself gaan nie, maar uit liefde vir die Korintiërs spruit. 

Wat is jou outomatiese reaksie wanneer jy misverstaan of vals beskuldig word? 

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

All Things New

In hierdie reis deur die boek 2 Korintiërs, verken "Alles Nuut" Paulus se teologie van avontuurlike geloof in hierdie wêreld en God se roeping vir ons om dapper te wees. Kelly Minter help ons om te verstaan hoekom die Christelike lewe mag voorkom of dit in stryd is met ons natuurlike geneigdhede, maar nogtans oneindig en ewig beter is. In hierdie 5-dag leesplan gaan jy probleme verken soos: hoe om moeilike verhoudings te hanteer, hoe om God te vertrou met jou reputasie, hoe om jou identiteit in Christus te vestig, hoe om die doel van swaarkry en God se voorsiening daarin te verstaan en hoe ons ligdraers in die wêreld moet wees.

More

Ons wil graag LifeWay Women bedank wat hierdie plan voorsien het. Besoek asseblief http://www.lifeway.com/allthingsnew vir meer inligting