Alles NuutVoorbeeld

All Things New

DAG 2 VAN 5

Ek het eers gedink dat, as ek God liefhet en suiwer Bybelse keuses maak, ek geseën sou word met 'n goeie lewe sonder hartseer, rampe of siekte. Soos ek ouer geword het, het ek geleidelik besef dat om God te dien egter nie veiligheid en sy toppakket waarborg nie. Nogtans het ek gevoel, as ek mý deel doen, God verplig sou wees om Syne te doen: om vir my die soort lewe te bou wat ons almal begeer en my teen pyn te beskerm. 

Vir die rekord: ek glo gehoorsaamheid bring seën en dat God dit geniet om aan ons materiële en verwante geskenke te gee, in reaksie op ons gehoorsaamheid aan Hom. Nogtans, my begrip van hoe swaarkry in die groter prentjie van die Christelike geloof inpas — of nie — was gebrekkig. In die Bybel sien ons dat swaarkry 'n plek in ons lewens het; selfs Hebreërs 2:10 verduidelik dat Jesus deur lyding heen tot volmaaktheid gebring is. Dit wat ek gemis het in my hunkering na dit wat my goed kon laat voel en my pogings om myself te probeer beskerm teen dit waarvoor ek bang was "op my sou kom" (in die woorde van Job), was eintlik heel eenvoudig: lyding is deel van die seën. 

Die idee van lyding behoort nie vrees soos 'n weerligstraal deur ons harte te laat skiet nie, want God is veral teenwoordig in ons lyding. Ook moet ons nie soek na 'n lewe van pyn, martelaarskap en slagofferskap in Jesus se Naam nie. Die slotsom is dat ons nie lyding moet vrees nie, maar ook nie agter elke bos daarna moet soek nie. 

Paulus begin sy brief aan die Korintiërs met die erkenning van twee van God se eienskappe wat ons in ons beproewings (probleme of verdrukkinge) tegemoet kom. Let daarop dat Paulus nie sê God is 'n barmhartige Vader nie, Hy is eerder die Vader van barmhartigheid. Hy is die eintlike bron en oorsprong van alle medelye. Hy is die eerste en enigste fontein — die Vader uit wie alle medelye vloei. Dit is 'n kopskuif vir die persoon wat God sien as iemand wat net nou en dan sy goeie kant wys. 

Kom ons kyk na die oorspronklike taal van die woord barmhartighede (medelye). Dit beteken "bakke waarin medelye is, 'n hart vol medelye, emosies, verlange, smagting, uitdrukkings van jammerte" of "die innerlike dele." Wanneer ons na die definisie van die woord kyk, kry ons 'n sterk sin van "om te voel". Na aanleiding van die Skrif, wil ek hê dat jy vandag sal hoor: die Here vóél vir jou. Hy het jou lief met medelye en barmhartigheid.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

All Things New

In hierdie reis deur die boek 2 Korintiërs, verken "Alles Nuut" Paulus se teologie van avontuurlike geloof in hierdie wêreld en God se roeping vir ons om dapper te wees. Kelly Minter help ons om te verstaan hoekom die Christelike lewe mag voorkom of dit in stryd is met ons natuurlike geneigdhede, maar nogtans oneindig en ewig beter is. In hierdie 5-dag leesplan gaan jy probleme verken soos: hoe om moeilike verhoudings te hanteer, hoe om God te vertrou met jou reputasie, hoe om jou identiteit in Christus te vestig, hoe om die doel van swaarkry en God se voorsiening daarin te verstaan en hoe ons ligdraers in die wêreld moet wees.

More

Ons wil graag LifeWay Women bedank wat hierdie plan voorsien het. Besoek asseblief http://www.lifeway.com/allthingsnew vir meer inligting