Ek leer die Heilige Gees kenVoorbeeld

Ek leer die Heilige Gees ken

DAG 6 VAN 7

WAT NOEM EK HOM

"So moet julle bid: 'Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word" (Matteus 6:9).

Mense vra heel dikwels: "Maar hoe moet ‘n mens bid? Praat jy met God, of praat jy met Jesus, of praat jy met die Heilige Gees?"

In Matteus het Jesus vir die dissipels geleer hoe om te bid: “Ons Vader wat in die hemel is ...” (Matteus 6:9-13). Daarom bid baie mense en noem Hom Hemelvader, of Vader God, of selfs Pappa.

Uit die Hebreeus is daar twaalf aanspreekvorme vir God. Ek noem ‘n paar:

  • Adonai (Hy is my Heer en Meester en ek wil Hom dien. Genesis 15:1-2);
  • Elohim (Skepper God. Genesis 1:1);
  • El Shaddai (Almagtige God. Genesis 17:1-2);
  • El Roi (Die God wat my raaksien. Genesis 16:13-14);
  • Yahweh (‘n Persoonlike aanspreekvorm wat God self aan Moses openbaar het en waarmee God se volk Hom kon aanspreek. Dit was ‘n Naam wat die betroubaarheid van God se karakter weerspieël het. “Ek is wat Ek is” Eksodus 3:14-15).

As die Heilige Gees jou beste vriend is, dan sal jy Hom so liefhê dat jy gedurig met Hom wíl praat en jy sal vir Hom die grootste respek hê. Hoe jy Hom aanspreek sal afhang van jou verhouding met Hom.

Onthou, ons aanbid ‘n drie-enige God, wat bestaan uit die Vader, die Seun Jesus Christus en die Heilige Gees. Dis egter een en dieselfde God. Ek verstaan dit so: My kinders noem my soms Mamma. Ander kere weer Mammie en daar is tye wat ek Ma is. Soms is ek Moeksie of Mamsie. Tog bly ek nog steeds een persoon. Hoe hulle my aanspreek het te doen met hul emosionele ingesteldheid op daardie oomblik.

God ken mos jou hart. Hy het dan juis vir ons die Heilige Gees gegee wat ons harte deursoek. Omdat God die Heilige Gees ken, weet Hy wat die Gees se bedoeling is wanneer Hy vir jou by God gaan pleit. Ons vra dinge uit die behoeftes van ons vlees, maar die Heilige Gees pleit vir ons volgens die wil van God (Romeine 8:27).

Praat maar. Hy luister.

GEBED:

O Gees van God, vandag wil ek laag voor U buig, want ek het U so nodig in my lewe. Ek wil gedurig met U praat. Ek wil hoor wat U my wil leer. Dankie dat U my liefhet net soos ek is. Amen.

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Ek leer die Heilige Gees ken

Die Heilige Gees wil jou beste vriend wees. Leer Hom ken, sodat jy elke dag met vreugde kan leef, soos dit Jesus se doel was.

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za/