Ek leer die Heilige Gees kenVoorbeeld
VERSTAAN DIE HEILIGE GEES
"Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word" (1 Korintiërs 2:14).
Hierdie Bybelvers is baie duidelik. Vir iemand wat nie in Jesus Christus glo nie, is alles wat die Bybel leer, onsin. Die ongelowige wil alles logies en wetenskaplik verklaar. Die Boodskapvertaling sê dat dit slegs die Heilige Gees is wat dinge vir ‘n mens duidelik kan maak. Dis ook die Heilige Gees wat ons geestelik sensitief maak. Om die Heilige Gees in jou lewe te hê, moet jy dus in Jesus Christus glo. In 1 Korintiërs 2:16 (DB) lees ons verder: Die Skrif sê mos: “Wie weet wat binne-in die Here omgaan sodat hy vir Hom kan sê wat om te doen? Ons wat sy Gees het, ken Jesus deur en deur."
Ons moet dus kies om ‘n verhouding met Hom te hê. Hy is beskikbaar vir alle mense wat glo en erken dat Jesus die Seun van God is. Of jy ryk, arm, jonk of oud is; as jy Jesus in jou lewe innooi, dan hét jy die Heilige Gees as geskenk ontvang.
Dink vir ‘n oomblik aan jou aardse verhouding met jou geliefde. Hoe meer julle met mekaar praat, jul emosies en gevoelens deel, hoe meer geheg raak jul aan mekaar. Hoe beter julle mekaar verstaan, hoe meer tyd bring julle saam deur en groei jul liefde elke dag meer en meer.
Leer dus die Heilige Gees ken sodat jy Hom kan verstaan. Ons hoef nie bang te wees dat die Heilige Gees ons vreemde dinge gaan laat doen, soos om agteroor te val, te skop en te skree nie. Nee, Hy is Iemand wat jou liefhet en wat jou belange op die hart dra. Hy kan soms wel kragtig werk, maar Hy sal jou nooit verneder of veroordeel nie. Ons aanbid ‘n God van orde. Die Heilige Gees is ‘n ware heer. Hy sal wag op jou uitnodiging en toenadering.
Hoe meer jy tyd met Hom deurbring, hoe gouer en hoe meer sal jy van sy werking in jou lewe bewus raak. Die Heilige Gees tree op as ons Helper, Beskermer, Advokaat en Trooster (volgens Romeine 8).
Laat vaar jou wantroue, leer Hom ken en omhels sy teenwoordigheid.
GEBED:
My Vader, baie dankie dat U my hierdie geskenk van die Heilige Gees gegee het. Help my om U werking in my lewe te verstaan. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Die Heilige Gees wil jou beste vriend wees. Leer Hom ken, sodat jy elke dag met vreugde kan leef, soos dit Jesus se doel was.
More
Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za/