Ek leer die Heilige Gees kenVoorbeeld

Ek leer die Heilige Gees ken

DAG 3 VAN 7

WEES GEHOORSAAM AAN HOM

"Moenie die Heilige Gees wat God vir julle gegee het, se hart seermaak nie. Dat die Gees in julle is, is die bewys dat julle aan God behoort. So sal dit bly tot op die dag dat ons finaal van die sonde ontslae sal wees" (Efesiërs 4:30 DB).

Ja sowaar. Die Heilige Gees het emosies. Hy kan hartseer raak wanneer ons dinge dink, doen en sê wat nie in God se wil vir ons lewens is nie.

Weet jy, ek is nie bang vir demoniese aanvalle op my, of vir wat mense van my sê nie. Demone vlug weg wanneer ons in Jesus glo en gebede bid waarin ons Jesus se Naam aanroep. As ons weet dat ons identiteit in Jesus Christus is, dan maak dit nie saak wat ander mense van ons sê nie, want God sê jy is sy oogappel; jy is kosbaar in sy oë en jou naam is in sy handpalms gegraveer.

Ek is wel baie bang om die Heilige Gees hartseer te maak. Juis omdat ons geneig is om sonde te doen, al wil ons dit nie doen nie. Dis soos om jou huweliksmaat of beste vriend teleur te stel; net erger. Gelukkig is daar vergifnis, danksy Jesus wat aan die kruis vir ons sonde gesterf het. Ons moet net by daardie plek uitkom waar ons sê: “Ek is so jammer. Vergewe my asseblief.” Die Heilige Gees ken jou hart en sal weet of jy opreg is.

As ons dus nou al hierdie dinge weet, moet ons ‘n besluit neem om gehoorsaam te wees aan sy stem wat waarsku, vermaan en raad gee. Daar is tog padreëls wat onder andere sê jy moet stilhou by ‘n stopstraat, of rooi lig. As jy nie gehoorsaam is en stop nie, stel jy ander mense se lewens in gevaar en ook jou eie.

Net so het God sekere riglyne vir ons in sy Woord ingebou om ons te help met ons lewensreis hier op aarde. Luister. Wees gehoorsaam. Dan sal jy rustig en gelukkig kan leef, ten spyte van ‘n wêreld wat vol sonde is. Jesus sê in Johannes 16:33 dat ons dit wel in hierdie wêreld moeilik sal hê. Hy sê egter ook ons moet moed hou, want Hy het die wêreld klaar oorwin!

GEBED:

O Hemelvader, help my asseblief vandag om gehoorsaam te wees wanneer die Heilige Gees my waarsku, help of keer. Maak my sensitief vir u stem. Amen.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Ek leer die Heilige Gees ken

Die Heilige Gees wil jou beste vriend wees. Leer Hom ken, sodat jy elke dag met vreugde kan leef, soos dit Jesus se doel was.

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za/