Ek leer die Heilige Gees kenVoorbeeld
VERTROU HOM
"Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon" (Romeine 8:11).
Dink mooi hieroor. Dieselfde Gees waarmee God Jesus uit die dood opgewek het, is in ons wat in Hom glo! Sjoe! Selfs Jesus het vertrou dat die Heilige Gees Hom weer uit die dood sou opwek. Selfs Jesus was gehoorsaam aan God en het Homself laat doop in die Jordaanrivier voordat Hy met sy bediening begin het. As Jesus so ‘n vertroue kon hê, hoekom nie ons ook nie?
Onthou net, Jesus was ‘n mens toe Hy op aarde was. Hy was die nag daar in Getsemane ook doodsbenoud oor die onbekende wat op Hom gewag het! Hy het gebid: "My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil" (Matteus 26:39).
Jesus het by die punt uitgekom om sy afhanklikheid van God te erken, uit te spreek en om Hom met sy lewe te vertrou. Hoeveel te meer kan en moet ek en jy Hom vertrou. Hy verstaan ons so goed as ons bang raak, of alleen voel. Daarom gee Hy ons die Heilige Gees om ons te help.
Dink aan ‘n klein kindjie wat tydens badtyd ‘n leë plastiekbakkie soos ‘n bootjie op die water laat dryf. Sodra die bakkie kantel, stroom die water in totdat die hele bakkie vol is. Wanneer ons net hoor van die Heilige Gees en net kennis neem, is ons soos die bakkie wat op die water dryf. Wanneer ons egter ons afhanklikheid van Hom bely en Hom toelaat om ons hele lewe te bestuur, dan is dit asof ons ons bakkies kantel omdat dit so vol is. Omdat ons op so ‘n manier wys dat ons Hom volkome vertrou, maak Hy ons lewe tot oorlopens toe vol van sy heerlikheid, liefde en genade.
Ons het die Heilige Gees in elke aspek van ons lewens nodig. As ons in ons eie krag dinge doen, dan kan ons ook net soveel doen soos wat ons krag ons toelaat. As ons egter iets doen met die krag van die Heilige Gees, dan gebeur wonderwerke!
GEBED:
O Heilige Gees van God, help my om U volkome te vertrou. Dankie dat U my vrees en swakheid vul met u teenwoordigheid. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Die Heilige Gees wil jou beste vriend wees. Leer Hom ken, sodat jy elke dag met vreugde kan leef, soos dit Jesus se doel was.
More
Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za/