Ontdek Die Grootste GewerVoorbeeld

Ontdek Die Grootste Gewer

DAG 14 VAN 40

Dag 14: Die Heilige Gees, God se grootste gawe

"Sonder die Gees van God kan ons niks doen nie. Ons is soos skepe sonder wind. Ons is nutteloos" — Charles Spurgeon.

Toe Jesus vir sy dissipels gesê het dat Hy hulle gaan verlaat was hulle hartseer en bang. Wat sou hulle doen sonder Hom? As ek myself in hul posisie voorstel sou ek verlore gevoel het nadat die kragtige teenwoordigheid van God deur Jesus se bediening ervaar was.

Jesus maak dadelik ʼn belofte: “Laat Ek julle egter die waarheid vertel: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Raadgewer, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie. As Ek egter weggaan, sal Ek die Raadgewer na julle toe stuur" (Johannes 16:7 NLV).

Jesus belowe die gawe van die Heilige Gees wat Hy aan elke gelowige gaan gee. Die Heilige Gees is die derde Persoon van die Goddelike Drie-eenheid en God se grootste gawe wat Hy begeer om aan elke persoon te gee.

Jesus het aan sy dissipels verskeie beloftes gemaak oor die Heilige Gees wat die Vader vir gelowiges sal gee ná sy hemelvaart. Jesus het selfs daarop aangedring dat die dissipels eers die Heilige Gees moet ontvang voordat hulle enigiets verder probeer doen.

Na die uitstorting van die Heilige Gees het Petrus God se belofte beklemtoon dat God die Heilige Gees sal uitstort op elke mens. Regdeur die geskiedenis het ons gesien hoe mense die Heilige Gees begeer en ontvang het, nadat hulle daarvoor gebid het.

Onmiddellik wanneer persone die Heilige Gees ontvang het, was dit ʼn ingrypende ervaring wat hul lewe beïnvloed en verander het en ʼn rewolusie in die wêreld veroorsaak het. Die hele verhaal van die boek Handelinge vertel vir ons wat gebeur wanneer mense die Heilige Gees van God ontvang.

Daarom was dit een van die groot konfronterende vrae van die eerste gelowiges of mense die Heilige Gees van God ontvang het. Paulus se vraag in die antieke stad Efese is ʼn voorbeeld: “Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het?” (Handelinge 19:2).

Dit was vir hom duidelik dat die mense in hulle eie vermoë probeer funksioneer het sonder die krag van God. Ons het almal hulp en krag nodig in die lewe en dit is onder andere die doel en taak van die Heilige Gees.

Die belangrikste vraag vandag vir jou is: Het jy die Heilige Gees al ontvang? Jy kan in ʼn oomblik van tyd die ervaring van die vervulling met God se Heilige Gees ervaar!

Oordink die volgende Skrifgedeelte en skryf jou gedagtes daaroor neer:

Dag 13Dag 15

Aangaande hierdie leesplan

Ontdek Die Grootste Gewer

Vrygewigheid is duidelik ʼn karaktereienskap van God wat regdeur die Bybel beskryf word. Geskiedenis getuig van die vrygewige God wat nooit moeg raak om te gee nie ... Daar is so baie om te verken wat Hy spesifiek aan ons almal gee en hoe ons dit in geloof kan ontvang. In hierdie Paasfees-leesplan word daar gefokus op die ongeëwenaarde goedheid en grootheid van God as dié grootste gewer ooit.

More

Ons wil graag Collage Gemeenskapskerk bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.learnandlead.co.za/