Ontdek Die Grootste GewerVoorbeeld

Ontdek Die Grootste Gewer

DAG 19 VAN 40

Dag 19: God gee sy ewige onveranderlike liefde

"God is liefde" — Johannes (1 Johannes 4:8).

Een sekerheid in die lewe is dat alles onseker is. Die mens op aarde is besig met ʼn reis op ʼn roete van onsekerheid, deur ʼn landskap van onvoorspelbaarheid en verandering. Dink maar net wat al in die afgelope twee dekades in die 21ste eeu gebeur het.

Regerings wat val of vervang word. Oorloë wat oornag uitbreek soos die onlangse oorloë tussen Rusland en Ukraine, Israel en die Palestyne. Ons mag beplan en voorberei, maar daar is altyd faktore buite ons beheer wat met ons paaie kruis.

Veranderings in persoonlike omstandighede, ekonomiese uitdagings, gesondheidskwessies en selfs natuurrampe kan onsekerheid bring wat ons dwing om aan te pas. Dink net aan Covid-19 wat ʼn ingrypende invloed op die hele wêreld vir twee jaar gehad het.

Selfs in ons verhoudings word ons gekonfronteer met onsekerheid: Vriendskappe kan verander, liefde kan kom en gaan, en emosionele welstand is dikwels ʼn golf van hoogtes en laagtes. In al hierdie onsekerheid van ons bestaan is die een ding waarvan ons seker kan wees: God se liefde is vir ewig en onveranderlik.

In Psalm 136:1 lees ons: "Loof die Here, want Hy is goed. Aan sy liefde is daar geen einde nie."

Hierdie vers herinner ons daaraan dat God se goedheid en liefde nie veranderlik of beperk is tot tyd of omstandighede nie, maar dat dit strek tot in ewigheid. Die liefde van God is ewig omdat dit nie beperk is deur die grense van tyd nie. In Jeremia 31:3 (AFR53) hoor ons die woorde van die Here: “Die HERE het aan my verskyn uit die verte: Ja, Ek het jou liefgehad met ʼn ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid.”

Hier sien ons dat God se liefde sonder begin of einde is; dat dit altyd daar was en sal wees.

Die onveranderlikheid van God se liefde is ʼn aspek wat ons nie kan ignoreer nie. In Hebreërs 13:8 lees ons: "Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid." As Christene verstaan ons dat Jesus die volmaakte openbaring van God se liefde is en dat sy liefde vir ons onveranderlik is.

Oordink die volgende Skrifgedeelte uit 1 Johannes 4:19 en skryf neer wat dit vir jou beteken:

Dag 18Dag 20

Aangaande hierdie leesplan

Ontdek Die Grootste Gewer

Vrygewigheid is duidelik ʼn karaktereienskap van God wat regdeur die Bybel beskryf word. Geskiedenis getuig van die vrygewige God wat nooit moeg raak om te gee nie ... Daar is so baie om te verken wat Hy spesifiek aan ons almal gee en hoe ons dit in geloof kan ontvang. In hierdie Paasfees-leesplan word daar gefokus op die ongeëwenaarde goedheid en grootheid van God as dié grootste gewer ooit.

More

Ons wil graag Collage Gemeenskapskerk bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.learnandlead.co.za/