Ontdek Die Grootste GewerVoorbeeld
Dag 20: God gee die gawe van vergifnis
'Wanneer God ons sonde vergewe, verander Hy nie van gedagte oor ons nie; Hy verander ons gedagtes oor Hom" — Herbert McCabe.
Ons lewe in ʼn wêreld waarin vergifnis dikwels as ʼn swakheid beskou word, maar in die oë van God is dit ʼn kragtige uiting van sy liefde en genade teenoor ons.
Die Bybel sê in Psalm 103:12: "So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af." Hierdie beeld van oneindige afstand beklemtoon die onmeetlike genade van God se vergifnis.
Die beginsel van vergifnis is diep gewortel in ons Christelike geloof. Ons sien dit duidelik in die gebed wat Jesus met sy dissipels gedeel het, waar Hy sê: “en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe” (Matteus 6:12 AFR53).
Hierdie gebed herinner ons daaraan dat ons nie net die genade van vergifnis ontvang nie, maar ook geroep word om dit aan ander te gee. Ons almal het al ervaar dat ons medemens iewers teen ons gesondig en ons diep verwond het. Dit voel dan asof ons nooit die persoon kan vergewe nie.
God se voorbeeld van hoe Hy vergifnis aan ons skenk word ʼn voorbeeld en gebod van hoe vergifnis beoefen moet word. Dit is wanneer ons besef dat ons sondige natuur en handelinge die ewige straf verdien, dat ons vergifnis maklik skenk aan dié wat teen ons gesondig het.
C.S. Lewis het eenkeer iets pragtig oor vergifnis gesê: “Om ʼn Christen te wees, beteken om die onverskoonbare te vergewe omdat God die onverskoonbare in jou vergewe het.” Laat ons dus vandag, in die lig van God se onverdiende vergifnis, diep bewus wees van die gawe wat God aan ons bied en mag ons bereid wees om hierdie gawe van vergifnis aan ander te gee.
Oordink die volgende Skrifgedeelte uit Kolossense 3:13 en skryf neer wat dit vir jou beteken:
Aangaande hierdie leesplan
Vrygewigheid is duidelik ʼn karaktereienskap van God wat regdeur die Bybel beskryf word. Geskiedenis getuig van die vrygewige God wat nooit moeg raak om te gee nie ... Daar is so baie om te verken wat Hy spesifiek aan ons almal gee en hoe ons dit in geloof kan ontvang. In hierdie Paasfees-leesplan word daar gefokus op die ongeëwenaarde goedheid en grootheid van God as dié grootste gewer ooit.
More
Ons wil graag Collage Gemeenskapskerk bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.learnandlead.co.za/