Ontdek Die Grootste GewerVoorbeeld

Ontdek Die Grootste Gewer

DAG 17 VAN 40

Dag 17: God gee vertroosting in tye van lyding

"Die Here is naby dié wat hartseer is. Hy help hulle wat geestelik stukkend is" — Dawid (Psalm 34:19 NLV).

Ons lewens op hierdie aarde is dikwels gevul met uitdagings, beproewings en lyding, maar die goeie nuus is dat ons ʼn God dien wat vertroosting kan gee in tye van nood. God is ʼn God van vertroosting en is altyd barmhartig en bereid om sy kinders te help deur moeilike tye.

Hy is nie ongevoelig vir menslike pyn nie, maar eerder ʼn liefdevolle Vader wat na sy kinders luister en hulle bystaan in hulle swaarkry.

As ons na die lewe van Jesus kyk, sien ons ook ʼn voorbeeld van vertroosting in lyding. Hy het nie net gekom om ons te red nie, maar ook om deel te hê aan ons menslike ervarings, insluitend pyn en lyding.

In Hebreërs 4:15 (NLV) lees ons: “Hierdie Hoofpriester van ons kan ten volle met ons in ons swakhede saamvoel, want Hy is in elke opsig op dieselfde manier as ons versoek, maar Hy het nie voor die sonde geswig nie.”

Dit beteken dat ons ʼn Verlosser dien wat ook verstaan wat dit beteken om mens te wees en deur pyn te gaan. Hy is naby aan dié wat gebroke is van hart, en is bereid om hulle te genees. Hy het alles oorwin en daardeur gedemonstreer dat ʼn persoon lyding kan oorkom deur die krag van die Heilige Gees.

Daarom het Jesus ook teruggekeer na die Vader sodat die Heilige Gees gegee kan word aan elke gelowige.

Een van die duidelike take van die Heilige Gees is om ʼn trooster te wees vir elke gelowige: “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ʼn ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees” (Johannes 14:16-17 AFR 53).

Die belofte is vir meer as om net trane af te droog. Die woord wat Jesus gee vir trooster beteken om ʼn hulp te wees in tye van nood. Die Heilige Gees as hulp is ʼn bron van krag, troos en leiding in tye van swaarkry. Hy is daar om ons harte te versterk, ons te herinner aan die waarhede van die Woord van God en om ons te lei op die regte pad, selfs deur die donkerste tye.

Oordink die volgende Skrifgedeelte uit 2 Korintiërs 1:3-4 en skryf neer wat dit vir jou beteken.

Dag 16Dag 18

Aangaande hierdie leesplan

Ontdek Die Grootste Gewer

Vrygewigheid is duidelik ʼn karaktereienskap van God wat regdeur die Bybel beskryf word. Geskiedenis getuig van die vrygewige God wat nooit moeg raak om te gee nie ... Daar is so baie om te verken wat Hy spesifiek aan ons almal gee en hoe ons dit in geloof kan ontvang. In hierdie Paasfees-leesplan word daar gefokus op die ongeëwenaarde goedheid en grootheid van God as dié grootste gewer ooit.

More

Ons wil graag Collage Gemeenskapskerk bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.learnandlead.co.za/