Waarom antwoord God nie my gebed nie?Voorbeeld
Nr. 4 — Nie gereed vir die antwoorde nie
So dikwels is ons geestelik net nie gereed vir die antwoord nie. Ons vra soms vrae oor byvoorbeeld die toekoms of wat die uiteinde van ons siekte sal wees. God antwoord ons egter nie omdat ons nie geestelik volwasse genoeg of gereed vir die antwoord is nie. As Hy ons sou antwoord, sou dit ons kon vernietig of veroorsaak dat ons ons geloof verloor.
Kennis kan soms vir ons ’n struikelblok wees. Te veel kennis lei dikwels tot ongeloof en wanhoop. Daarom wil God sekere dinge nie vir ons sê nie. Ons weet dus nie nou alles nie — laat dit vir jou genoeg wees dat God weet en dat Hy in beheer is (Deuteronomium 29:29; 1 Korintiërs 13:12).
Kennis kan egter ook tot hoogmoed lei. Indien jy byvoorbeeld sou weet dat jy eendag 'n bekende skrywer, dokter, pianis of prediker gaan wees, of dat baie mense gesond sal word wanneer jy vir hulle bid, kan dit jou ondergang beteken. Jy kan maklik te veel van jouself dink en die lewe vir ander moeilik maak en baie skade aan ander se lewens aanrig.
Nr. 5 — God het vir elke mens ’n skeppingsdoel
Soms voel ons baie “alledaags”, soms voel ons besonders (Romeine 9:21). Ons kan soms die regte vraag vra, maar die antwoord wat ons wil hê, pas nie by ons skeppingsdoel en God se plan vir ons lewens nie, daarom sê God vir ons "nee". Ons is almal besonders — want God het ons gemaak — elkeen met ‘n spesifieke doel. Hy is die Pottebakker en ons is die klei. Dit is nie die pot se plek om vir die pottebakker te vra: “Wat doen jy nou? Weet jy wat jy doen?” Jou vreugde sal jy vind in jou skeppingsdoel — en dit is nie om soos iemand anders te wees nie. Moenie begeer om soos iemand anders te wees nie — dit sal jou vernietig. God maak niks tweedehands nie — niks wat minderwaardig is nie. Jy is uniek en belangrik.
Nr. 6 — Geestelik nie op 'n plek waar God na jou kan luister nie
Soms staan ons nie op gebedsgrond nie. Ons leef op 'n wyse waarop God nie ons gebede sal verhoor nie. Die gesindheid van ons hart kan verkeerd wees, of ons wil nie regtig hoor wat God wil sê nie, maar slegs dat Hy vir ons moet gee wat ons vra. Daar kan ook bewuste sonde in ons lewens wees wat ons nie bely het nie. Sonde verhinder gebedsverhoring. Kom op ’n punt waar jy in afhanklikheid voor God kom staan, waar jou hart op Hom gerig is, jou lewe skoon is, en jy gereed is om die wil van God te doen — ongeag wat Hy vra. Hierdie beginsels is geweldig belangrik.
Ons is geestelik so dikwels op ‘n plek waar God ons nie kan antwoord nie, want ons is eintlik nie regtig geïnteresseerd in sy wil nie, maar “dat ons wil" sal geskied. Is daar bitterheid, onvergewensgesindheid, jaloesie, self-bejammering, woede, afguns en kritiek in ons harte? God sê in die Woord Hy sal ons nie antwoord as ons sonde in ons harte ronddra nie (Jesaja 59:1-2).
Aangaande hierdie leesplan
Baie mense wonder waarom hulle nie antwoorde kry wanneer hulle bid nie. Hierdie leesplan gee 'n aantal redes wat jou kan help.
More
Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com/