Bly Getrou | Ses Maande in die Nuwe Testament — Daaglikse Leesstukke uit die Bybel Voorbeeld

Abide | 6 Months in the New Testament - Daily Readings From the Bible

DAG 144 VAN 182

Gebed

Jy gaan binnekort vandag se gedeelte lees. Voor jy dit doen, begin met 'n eenvoudige gebed soos hierdie een:

“Vader, ek nooi U om saam met my in hierdie oomblik te wees en vra dat U my hart ontvanklik maak vir u Woord. Help my om U intiemer te leer ken hierdeur, en dat ek sal toelaat dat u Waarheid my hart, gedagtes en siel vandag daardeur sal verander.”

Wanneer jy jou leeswerk voltooi het, wy ‘n paar minute aan die B.I.D.-siklus.

_________________

B — BEDAAR en raak rustig. Bepeins dit wat jy gelees het en laat toe dat die inligting by jou insink.

I — INNEEM Wat het God vandag deur sy Woord vir jou gesê? Sê ‘n Bybelvers hardop vir jouself en skryf dit miskien selfs neer.

D — DRA jou versoek om hulp aan God op. Die uitdaging is om in Jesus se teenwoordigheid te wees en meer soos Hy te word. Hoe daag vandag se Woord jou uit om dit te doen?

Ons Vader nooi jou liefdevol uit om in sy lieflike plan vir jou lewe, sy kerk en die wêreld te leef. Aanvaar sy uitnodiging om anders te leef en begryp dat sy plan groter is as wat ons kan bid of dink.

_________________

Agtergrond oor Kolossense

Wie het die boek Kolossense geskryf?

Volgens Christelike tradisie het die apostel Paulus Kolossense geskryf.

Aan wie is die boek Kolossense geskryf?

Hierdie brief is aan die gemeente in die Romeinse stad met die naam Kolosse geskryf. Dit is onduidelik of die apostel Paulus al ooit hierdie gemeente besoek het teen die tyd dat die brief geskryf is.

Konteks

Die gebeure wat in Kolossense beskryf word, vind in die stad Kolosse plaas. Kolossense is waarskynlik geskryf terwyl Paulus tussen 60 en 64 n.C. in Rome in aanhouding was. Paulus het 'n verslag van die situasie in Kolosse deur middel van Epafras ontvang (Kolossense 1:7-8). Hierdie verslag was meestal gunstig (Kolossense 2:5). Die onderwerp van die brief dui egter sterk daarop dat die kerk die gevaar geloop het om terug te val na heidense gebruike of hulle te onderwerp aan dwaalleer met betrekking tot Christus se Goddelikheid en die betekenis van die besnydenis.

Literêre Styl

Die boek Kolossense is 'n brief wat in prosavorm geskryf en aan die gemeentes in Kolosse gerig is.

Hooftemas

  1. Jesus is Koning oor die hele skepping
  2. Vrymaking deur Jesus
  3. Vryheid in die Messias

Struktuur

Kolossense kan in vier dele verdeel word. Hoofstuk 1:1-23 begin met Jesus as die hoof van die nuwe mensdom. Hoofstukke 1:24-2:5 fokus op Paulus se lyding. Hoofstuk 2:6-23 handel oor kulturele druk in Kolosse. Hoofstukke 3-4 beskryf voorbeelde van Jesus se selfopofferende liefde.

_________________

Agtergrond oor 1 Tessalonisense

Wie het die boek 1 Tessalonisense geskryf?

Volgens Christelike tradisie het die apostel Paulus 1 Tessalonisense geskryf. Dit is die eerste van twee briewe wat Paulus geskryf het aan die Tessalonisense.

Aan wie is die boek 1 Tessalonisense geskryf?

Hierdie brief is aan die gemeente in Tessalonika geskryf, wat Paulus in Handelinge 17 gehelp het om te stig. Die boek 1 Tessalonisense word beskou as een van Paulus se vroegste briewe, indien nie die eerste nie.

Konteks

Die gebeure wat beskryf word in 1 Tessalonisense vind plaas in die stad Tessalonika. Die boek 1 Tessalonisense is waarskynlik saamgestel gedurende Paulus se tweede sendingreis, tussen 48 en 52 n.C. Sy skielike vertrek uit Tessalonika so gou ná die stigting van die kerk het Paulus natuurlik besorg gelaat oor die toestand van die gelowiges daar. Toe Timoteus by Paulus in Atene aangesluit het (vgl. Handelinge 17:14-16), het sy besorgdheid Paulus oorreed om Timoteus dadelik terug te stuur na Tessalonika om die nuwe dissipels in die geloof aan te moedig en te versterk en om uit te vind hoe hulle vervolging verduur (vgl. 1 Tessalonisense 3:1-5). Hy het met 'n goeie verslag van hul geloof teruggekeer, en daarom skryf Paulus om hulle aan te moedig en te onderrig in die heilige lewe.

Literêre Styl

Die boek 1 Tessalonisense is 'n brief wat in prosavorm geskryf is aan die kerk in Tessalonika.

Hooftemas

  1. Heiligheid in jou hele lewe
  2. Jesus as die ware Koning van die wêreld
  3. Die hoop op Jesus se wederkoms

Struktuur

Die boek 1 Tessalonisense kan in twee gedeeltes verdeel word. Hoofstukke 1-3 begin deur die Tessalonisense se geloof en volharding te prys. Hoofstukke 4-5 volg met instruksies oor die goeie lewe en besonderhede oor Jesus se wederkoms.

Dag 143Dag 145

Aangaande hierdie leesplan

Abide | 6 Months in the New Testament - Daily Readings From the Bible

Bly Getrou is 'n 6-maandelange leesplan wat op die Nuwe Testament fokus. Ons hoop dat hierdie gesamentlike studie 'n honger vir die Woord van God in jou geestelike lewe sal bring en dat jy met elke gedeelte wat jy lees, dieper in geloof geanker sal word. Ons het selfs weeklikse "inhaaldae" bygewerk om jou die nodige tyd te gee as jy 'n dag gemis het of agter geraak het!

More

Ons wil graag The Bridge Church bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://bridge.tv