Tyd vir 'n nuwe bladsy!Voorbeeld
Dag 5: Blanko bladsy
Habakuk 2:20 (NLV): “Die HERE is in sy heilige tempel; laat almal op aarde stil wees in sy teenwoordigheid."
Ek hou daarvan om in die vroegoggendstilte my joernaal nader te trek en te skryf. My tyd. Sy tyd. Saamtyd. Soms vra mense vir my wat ek elke dag skryf. Ek haal diep asem en vra: “Here, wat moet ek hoor?” Soms "hoor" ek niks nie maar die stilte is soos fluweel oor my gedrapeer. Dikwels skryf ek name van mense neer of ek lys ‘n paar uitdagings. Soms maak ek net gou 'n kort nota: “Here, ek loer in. Ek het U nodig — ja, elke uur van hierdie dag wat soos ‘n blanko bladsy voor my lê. Help my deur u Gees om dit in te kleur volgens u wil."
Ons teksvers is die laaste vers van die hoofstuk waarin God die mens waarsku teen verskeie dinge. Dit word afgesluit met die kragtige woorde om stil te wees voor Hóm. Baie mense stoei daarmee. Ons gedagtes hardloop teen 'n hoë spoed. Die lewe laat nie stilwees toe nie. Dit is egter in ons eie hande om stilwees te kies en doelbewus te dóén — dis ‘n werkwoord!
Vandag hou jy ‘n nuwe bladsy in jou hand met genoeg ure om verskeie kleure te gebruik: geel vir glimlag, rooi vir liefde, groen vir lewe, blou vir geduld, pienk vir ander mense en pers vir toewyding in dít wat jy moet doen vandag.
Gebed: Vader, laat u Gees deur my vloei en my gedagtes na u stilte rig. Ek wil vandag se bladsy volkleur voor U neersit.
Gaan koop ‘n boekie en kleurpenne! Binnekort blaai jy terug deur jou joernaal en dan sal jy sien hoe baie daar was om in stilte voor God in te kleur. Jy is deel van sy groter prentjie.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Dit is 'n nuwe jaar en ons kyk soos gewoonlik optimisties na die nuwe jaartal. Soms kwyn nuwe verwagtinge vroeg in die eerste kwartaal. Daarom is dit nodig dat ons vorentoe kyk, ons oë op Jesus vestig en agter Hom aanstap. Maak die blanko boek van 2024 oop en begin skryf op 'n nuwe bladsy!
More
Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://whitevapor.wordpress.com/