Tyd vir 'n nuwe bladsy!Voorbeeld

Tyd vir 'n nuwe bladsy!

DAG 4 VAN 5

Dag 4: Dankbaarheidsbladsy

1 Timoteus 1:12: “Teenoor Christus Jesus ons Here is ek dankbaar: Hy het my krag gegee en my betroubaar geag om my in sy diens te stel.”

In hierdie hoofstuk skryf Paulus aan Timoteus oor Jesus se grootheid, oneindige getrouheid en die voorreg wat hom gegun is om as voorbeeld vir ander mense die Woord te kan verkondig. Sy dankbaarheid is baie inspirerend, so asof hy op en af spring dat álmal kan sien en hoor!

Dink vir ‘n oomblik wat die woord "dankbaar" werklik beteken: om erkenning te gee aan dit wat goed is, om bly te wees en om ‘n gerustheid te beleef. Ons almal is in diens van Jesus vanaf die dag wat ons Hom aanvaar het as ons Verlosser. Ons is sy hande en voete in hierdie wêreld. Dit is Hy wat ons krag gee, liefde in ons harte plant en ons élke dag van ons lewe rig deur sy genade.

‘n Vriendin het eendag by my stoom afgeblaas oor ‘n paar persoonlike sake in haar huishouding. Ons het alles neergeskryf. Ek het baie van haar frustrasies verstaan. Ons almal beleef soms dinge wat 'n krapperigheid in ons gemoed veroorsaak. Ek het voorgestel dat die negatiewe lysie eenkant geskuif word en dat ons doelbewus dink aan waarvoor ons dankbaar kan wees. Ons het veral gedink aan dié dinge wat ons daagliks as vanselfsprekend aanvaar soos byvoorbeeld “Ek hét ‘n motor al is hy klein, ek is baie gesond en my man is goed vir my al wys hy dit op ander maniere.” Ons was albei aangenaam verras om te sien dat die dankbaarlys baie langer as die negatiewe lysie is.

Staan vir ‘n oomblik stil. Bedink die bogenoemde, veral die voorreg wat ons reeds het om Jesus "aan te trek" sodat ander mense Hóm kan ervaar deur ons! Jy en al die dinge van jou lewe is in sy diens!

Gebed: Here, ek aanvaar met dankbaarheid my posbeskrywing om in u diens te wees.

Maak ‘n nota in jou dagboek om weekliks te dink en te besin oor alles waarvoor jy dankbaar is. Skryf die nota elke volgende week op ‘n nuwe bladsy sodat jy kan onthou om dit te doen. Dit kan jou ook help om vir ander te vertel van Jesus se grootheid en getrouheid en om die eer aan Hom te gee!

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Tyd vir 'n nuwe bladsy!

Dit is 'n nuwe jaar en ons kyk soos gewoonlik optimisties na die nuwe jaartal. Soms kwyn nuwe verwagtinge vroeg in die eerste kwartaal. Daarom is dit nodig dat ons vorentoe kyk, ons oë op Jesus vestig en agter Hom aanstap. Maak die blanko boek van 2024 oop en begin skryf op 'n nuwe bladsy!

More

Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://whitevapor.wordpress.com/