Tyd vir 'n nuwe bladsy!Voorbeeld

Tyd vir 'n nuwe bladsy!

DAG 3 VAN 5

Dag 3: Moed sonder sig

2 Korintiërs 5:7 (NLV) “want ons leef deur te glo en nie deur te sien nie.”

In die animasie film The Croods het een karakter vir die ander een gesê: “Môre is nie 'n plek nie; jy kan dit nie sien nie." Die ander karakter se reaksie was: “Nee, maar dit is waarheen ek gaan."

Dié teksvers is baie bekend. Maar verstaan ons régtig die impak van die betekenis? Glo. Hou aan glo al is dit nie tasbaar of sigbaar nie. As ons tog net die res van 2024 in ons guns kon swaai of 'n helikopterfoto van ons lewens tot en met Desember 2024 kon neem om onsself sielkundig voor te berei vir dit wat wag ... As feilbare mense is ons maar bang vir dít wat óns nie kan beheer nie.

Tog, waarom is daar iets soos geloof? Dit hou ons afhanklik van ons Vader. As ons alles te wete moet kom oor al die môres wat wag, sal ons beslis op ons eie insigte staatmaak, hoe die prentjie ook al lyk. Dink só daaraan: elke dag van hierdie jaar is reeds in God se hand. Hy open jou dag met sy teenwoordigheid langs jou sódat jy gereeld moet oorleun en luister na sy stem. Dis amper soos om met ‘n navigator ‘n langafstandpadwedren aan te durf. Jy moet fyn luister wanneer om links of regs te draai en selfs ook om briek te trap indien nodig!

Gebed: Vader, ek is totaal verlore sonder U as my kompas. U Woord belowe trou. Ek leef deur aan U vas te hou.

Gryp die uitdaging aan! Trek jou moed, vasberadenheid, deursettingsvermoë en vasbyt aan sonder om te kan ‘sien’. Wanneer môre kom is God se genade reeds daar.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Tyd vir 'n nuwe bladsy!

Dit is 'n nuwe jaar en ons kyk soos gewoonlik optimisties na die nuwe jaartal. Soms kwyn nuwe verwagtinge vroeg in die eerste kwartaal. Daarom is dit nodig dat ons vorentoe kyk, ons oë op Jesus vestig en agter Hom aanstap. Maak die blanko boek van 2024 oop en begin skryf op 'n nuwe bladsy!

More

Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://whitevapor.wordpress.com/