Tyd vir 'n nuwe bladsy!Voorbeeld

Tyd vir 'n nuwe bladsy!

DAG 2 VAN 5

Dag 2: Vars fokus

Filippense 3:13-14 (NLV): “ ... ek reken self nie dat ek al is wat ek moet wees nie, maar een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God deur Christus Jesus aan my gee.”

Hierdie woorde vanuit Paulus se mond is dalk té bekend. Dit word dikwels (met goeie bedoelings) in geselskap aangehaal. Dit is beslis bemoedigend maar waarop fokus Paulus eintlik?

Paulus erken dat hy doodgewoon is, dat hyself nog ‘n student van die lewe is en kan verbeter. Wat opvallend is, is sy oortuigende verklaring dat hy vasbeslote is om vorentoe te leef en nie agtertoe nie. Hy fokus op die híér en nóú! Gister het laasnag geeïndig — dis verby. Natuurlik is ons mense en word al die gisters nie skielik in ons geheue uitgewis nie, máár ons kan leer daaruit.

Ons kan, net soos Paulus, kies om deur die groot voorruit van ons lewensmotor te kyk. Die truspieëltjie is nie verniet klein nie! Vorentoe is in elk geval al roete wat daar is.

Gebed: Here, klim in my gedagtes en dade in deur u Gees en rig my deur die hemelse koördinate in my hart te deponeer as rigtingwyser.

Jy het vandag met 'n splinternuwe dag voor jou begin.

Ons Vader wil hê jy moet vandág vasgryp. Haal diep asem, fokus en weet: jy het nie tot hier gekom nét om tot hier te kom nie! Daar is ‘n blokkiesvlag van oorwinning met jou naam op.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Tyd vir 'n nuwe bladsy!

Dit is 'n nuwe jaar en ons kyk soos gewoonlik optimisties na die nuwe jaartal. Soms kwyn nuwe verwagtinge vroeg in die eerste kwartaal. Daarom is dit nodig dat ons vorentoe kyk, ons oë op Jesus vestig en agter Hom aanstap. Maak die blanko boek van 2024 oop en begin skryf op 'n nuwe bladsy!

More

Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://whitevapor.wordpress.com/