Dís my Jesus.Voorbeeld

Dís my Jesus.

DAG 5 VAN 7

IN HOM IS EK TOT ALLES IN STAAT

"En Hy sê: Kom! Petrus klim toe van die skuit af en loop op die water om na Jesus te gaan" Matteus 14:29 AFR53.

In Filippense 4:13 AFR 53 staan daar: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” Hierdie vers laat my dikwels wonder of dit Petrus se gesindheid was toe hy ook soos Jesus op die water wou loop. Maar dalk nie, want toe hy sy oë van Jesus af wegvat en na die stormagtige see kyk, het hy begin sink!

Petrus het Jesus vertrou en toe sink hy. In jou eie situasie voel jy dalk: Waar is Jesus dat hy dit toelaat? Ek het Hom vertrou vir genesing, of uitkoms en toe sink ek. Klink dit vir jou bekend? Dikwels word ons kwaad vir God as ons voel Hy kom nie vir ons deur nie.

Hier is die belangrike ding wat ons moet weet: Ja, Petrus het vir Jesus vertrou! Juis omdat hy al soveel wonderwerke van Jesus gesien het, was hy oorweldig deur hierdie om-op-die-water-te-kan-loop-idee. Hy was gefokus op Jesus en hy kon toe op die water loop! — totdat hy begin wegkyk het, en op sy eie krag verder wou loop. Sien jy? Dis nie God wat ons in die steek laat nie. Dis ons wat ons oë en fokus van Hom af wegvat!

Omdat ons hierdie storie egter ken, moet ek en jy regtig teen ons ongeloof waak. Kyk terug op jou lewe en herinner jouself aan al die tye wat Jesus jou gehelp het. Weet, glo en vertrou dat geen probleem vir Hom te groot of te veel is nie. Hy is immers die een wat die heeltyd op die water kan loop, weet jy!

Ja, ons is tot alles in staat omdat Jesus ons die krag daartoe gee. Dit beteken nie Hy neem alle probleme van jou weg nie. Dit beteken nie jy gaan die heeltyd in weelde en sonder bekommernisse of pyn wees nie. Nee, die lewe gebeur met ons almal. Dit beteken Hy is daar by jou ten spyte van jou onstuimige see. Daarom gee Hy jou die krag vir wat jy ook al moet doen.

Dit maak nie saak hoe diep jy vandag in die moeilikheid is nie, of watter dinge dit is wat jou wil verswelg nie. Die oomblik wat jy uitroep: “Here, red my!” sal Jesus jou help, want Hy is baie lief vir jou.

Gebed:

Here, help my tog! Kom asseblief my ongeloof tot hulp! Dankie dat U my liefhet en dat U my uit my stormwater kom verlos. Amen.

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Dís my Jesus.

Jesus Christus se wondertekens op aarde wys ons hoe God se krag kan transformeer en vermenigvuldig. Hy vul ons met sy liefde. Hy red ons omdat ons in Hom glo. Hy bring genesing. Hy voorsien in al ons behoeftes. By Hom het ons die ewige lewe. Ek en jy is tot alles in staat deur Jesus Christus wat ons die krag gee.

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za/