Dís my Jesus.Voorbeeld

Dís my Jesus.

DAG 4 VAN 7

HY SAL VOORSIEN

"Daarna het Jesus die brood geneem, God daarvoor gedank en dit uitgedeel aan die mense wat daar gesit het, en net so ook soveel van die vis as wat hulle wou hê" Johannes 6:11 AFR83.

Jesus vra vir Filippus waarvandaan hulle brood vir al die baie mense kon koop. Hierdie was ‘n toets vir hom, want Jesus het mos al klaar geweet wat Hy sou doen. In plaas dat Filippus onthou dat Jesus wonderwerke kan doen, maak hy somme en besluit dat hulle nie genoeg geld het om so baie brood te koop nie.

Dis mos maar hoe ek en jy ook is. Ons kom dikwels voor ‘n probleem te staan. Ons is maar te gou om na ons omstandighede te kyk en dan sommer moed op te gee. Of ons verlaat ons op ons eie somme wat ons maak. Here, ek het nie genoeg geld nie; ek het nie die nodige kennis/middele/opleiding nie!

Gelukkig vir ons, weet Jesus mos al klaar wat Hy gaan doen. Ek dink Hy wil net so graag sien hoe ons Hom vertrou en gló dat Hy ons saak sal oplos. Dink terug aan hoe Jesus al vir jou op ander tye in jou lewe deurgekom het.

Ek hou so van hierdie storie. Ons sien hier ‘n God van orde aan die werk. Hy laat die mense in groepies sit. Sodra ons onder God se orde inval, gebeur ‘n wonderwerk! Verder sien ons Jesus as die perfekte gasheer. Die mense het nie eers gewéét Hy doen ‘n wonderwerk nie. Nadat Hy God gedank het vir die klein hoeveelheid kos, het Hy dit gebreek en vir die dissipels gegee om uit te deel. En êrens nadat Hy dit gebreek het, het die wonderwerk gebeur! Jesus wou hier ‘n heeltemal nuwe benadering gebruik want Hy wou op ‘n groot manier voorsien.

Brood word van graan gemaak. Op sigself kan graan vermenigvuldig, maar sodra dit in ‘n brood-vorm is, is dit fyngemaal tot meel en is eintlik dan dood. Ons kyk hierdie maklik mis: Jesus het as’t ware iets wat alreeds dood was, laat meer word! Sjoe!

Jesus wil ook in jou lewe op bonatuurlike maniere werk. Al het jy min, of al voel jy alles binne-in jou is dood, kan jy Hom vir baie vertrou. Ja, vertrou Hom vir ‘n ewige lewe. Soek sy aangesig. Glo en vertrou Hom vir ‘n wonderwerk.

Gebed:

My Here Jesus, baie dankie dat U ook in my lewe ‘n wonderwerk wil laat gebeur. Maak my gewillig om U te vertrou en om U toe te laat om my te gebruik. Dankie dat U die Een is wat voorsien. Amen.

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Dís my Jesus.

Jesus Christus se wondertekens op aarde wys ons hoe God se krag kan transformeer en vermenigvuldig. Hy vul ons met sy liefde. Hy red ons omdat ons in Hom glo. Hy bring genesing. Hy voorsien in al ons behoeftes. By Hom het ons die ewige lewe. Ek en jy is tot alles in staat deur Jesus Christus wat ons die krag gee.

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za/