Dís my Jesus.Voorbeeld

Dís my Jesus.

DAG 2 VAN 7

HY RED MY OMDAT EK GLO

"Maar Jesus sê vir hom: 'Gaan maar huis toe, jou seun lewe.' Die man het geglo wat Jesus vir hom gesê het, en gegaan. Toe hy nog op die pad was, het sy werksmense hom al tegemoet gegaan en vertel dat sy kind lewe" Johannes 4:50,51AFR83.

Ons lees hier van ‘n koninklike beampte wie se seun baie siek geword het. Geen geld of invloed kon hom gesond maak nie. Hoe dikwels kom ek en jy nie ook in ons lewe op ‘n plek waar ons besef: My geld, posisie, of vriendekring kan my nie hier help nie!

Ek dink nou aan ‘n tyd wat my jongste te vroeg gebore was. Die dokters het gereken hy sou nie bly lewe nie. Skielik het ‘n vreemde klomp emosies my hart en gedagtes oorheers: Eers het ek by God gepleit om my kind se lewe te spaar. Toe het ek begin om allerhande beloftes aan God te maak. Paniek het my oorval en ek het begin om alles waaraan ek kon dink ek al verkeerd gedoen het voor God te bely. Koorsagtig het ek oral by verskillende dokters en mense raad gevra. Dit het vir my gevoel of God se stilte oorverdowend in my hart was.

Maar eers toe ek rustig raak en my kind as’t ware teruggee vir God; toe ek God vertrou vir sy soewereine wil; eers toe word my babatjie wonderbaarlik gesond! God weet altyd wat vir ons die beste is. Hy weet die oplossing tot ons probleme nog voordat ons daarvoor vra. Al wat Hy van my en jou wil hê, is dat ons Hom moet vertrou.

Juis omdat Jesus nie saam met die ryk man gegaan het nie, het hy geleer – en nou ons ook – dat afstand en tyd nie vir God ‘n probleem is nie. As jy in Hom glo, verseker Hy jou van redding.

Jy sien, ons verstaan God se liefde vir ons so dikwels verkeerd. Hy wil nie keer dat wonderwerke in ons lewens gebeur nie. Hy wil net nie hê ons moet ‘n geloof hê wat afhánklik is van wonderwerke nie!

Gebed:

Liewe Heer, help my om U volkome te vertrou. Versterk asseblief my geloof in U. Dankie vir u liefde en genade vir my. Dankie dat niks vir U onmoontlik is nie. Amen.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Dís my Jesus.

Jesus Christus se wondertekens op aarde wys ons hoe God se krag kan transformeer en vermenigvuldig. Hy vul ons met sy liefde. Hy red ons omdat ons in Hom glo. Hy bring genesing. Hy voorsien in al ons behoeftes. By Hom het ons die ewige lewe. Ek en jy is tot alles in staat deur Jesus Christus wat ons die krag gee.

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za/