Oorweldig deur My Seëninge (Deel 5)Voorbeeld
Ek het al genoem van die dae wat ek die lang ent na ons plattelandse posbus geloop het met die gedagte om weg te hardloop van die daaglikse sleurwerk. Ek het verlang na die pure saligheid van volwasse gesprekke, die opwinding om die gekibbel en konflikte agter te laat, of die plesier om net alleen badkamer toe te gaan! Jy weet, waar vingertjies nie om die deur verskyn nie, of 'n kind nie vir jou skree om gou te maak of 'n peuselhappie te kom maak nie. Ja, jy weet.
Op sommige dae was my gedagtes om weg te hardloop nie uit my selfsugtige begeertes en dagdrome van 'n eenvoudiger lewe nie, maar omdat ek oortuig was dat iemand anders beter geskik sou wees om my gesin groot te maak. Om my kalmte te verloor, my stem te verhef, nie 'n goeie verbintenis met my man te hê nie, en hormonale dae, het alles my boonop oortuig dat my gesin beslis sonder my beter af sal wees. Hulle verdien iemand beter as ek.
Ek het nooit weggegaan nie, maar ek het daardie gedagtes lank genoeg toegelaat om meer as een keer in 'n donker spiraal van selfveragting en haat afgetrek te word.
'n Gebrek aan slaap, om meer te doene te hê as wat ek alleen kan behartig, en die geraas-vlakke in ons huis, kan bydra tot daardie donker gedagtes. As ons nie versigtig is nie, sal ons onsself in 'n bodemlose put van wanhoop bevind, wat 'n "uitweg" van ons huidige lewens wil hê. Jy verstaan? Dit is nie ongewoon onder ma's nie.
Hoe kan ons hierdie wanhopige gedagtes beveg?
STOP hulle. Hoor my. Stop dit eenvoudig. Klaar. Moet niks doen nie. Moenie enige optrede oorweeg nie. Moenie iemand bel nie. Moenie skrik nie. Stop daarmee!
Toeëien. Eien dadelik daardie gedagtes toe! Gryp hulle voor hulle hand uitruk en die omstandighede vererger van wat regtig waar is. Ons is uiters vaardig om toe te laat dat ons gedagtes ons na die ergste, moontlike negatiewe plek neem. Jy het die krag van God wat in jou woon wat jou die vermoë gee om daardie gedagtes te stop.
Onderdanig. Maak daardie gedagtes onderdanig aan die Woord van God. Pas sy waarheid op jou omstandighede en gedagtes toe. Onthou Skrifgedeeltes wat die negatiewe gedagtes teëwerk.
Plaas jou gedagtes en omstandighede aan die voete van Jesus, bly in afwagting terwyl jy Hom vertrou om alles ten goede en tot sy verheerliking te laat meewerk, selfs wanneer dit nie moontlik lyk nie.
S.T.O.P.! Stop, Toeëien, Onderdanig, Plaas. Onthou hierdie akroniem wanneer jy op die doodloopstraat van negatiwiteit, slawerny en wanhoop is. Jy kan daardie wanhoop oorkom!
Vader, ek erken ek was al te veel kere op hierdie pad. Soms lyk dit of die lewe te moeilik is, en ek is op die verkeerde plek met die verkeerde mense waar ek al die verkeerde dinge doen. Help my om hierdie negatiewe denkpatrone te STOP, in die wete dat U my op hierdie presiese tyd hier geplaas het, by die mense wat my sal vorm tot die mens wat U wil hê ek moet wees, selfs wanneer ek foute maak. Ek wil deursettingsvermoë kies, en deur die moeilike tye vasbyt. Ek kies om daardie gedagtes te STOP, en vertrou al my omstandighede en mense aan U toe. Ek is vol afwagting om u werk te sien. U geduld met my is onbegryplik groot. Ek loof U vir u liefde en genade — net vir my!
Oorweeg dit om hierdie Skrifgedeelte uit Die Boodskap te lees.
Aangaande hierdie leesplan
Aanmoediging vir ma's van 'n ma wat sewe kinders grootgemaak en dit oorleef het om die verhaal te kan vertel. Deel vyf van 12 in hierdie leesplanreeks deur Robin Meadows!
More