Lewe Veranderd: Vertrou Op GodVoorbeeld
Vertrou Op God Wanneer Jy Wil Opgee
Die lewe kan soms oorweldigend wees. Dit kan lyk asof daar altyd een ding na die ander is en die aanslae nooit sal ophou nie. In sulke oomblikke kan dit so moeilik wees om verby ons huidige stryd te kyk dat ons wil opgee. Selfs die mense met die grootste geloof het 'n breekpunt. Wanneer ons daardie punt bereik, is die beste ding wat ons kan doen net om in God se teenwoordigheid te sit.
Psalm 46:11 sê: "Bedaar en erken dat ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde."
Dit kan moeilik wees om jou pas stadiger te maak, veral wanneer ons voel dat alles sonder ons uitmekaar gaan val. Hoewel dit dalk onproduktief voel, is die werklikheid dat om stil te wees nie dieselfde is as om lui of onaktief te wees nie. Dit is 'n bewys van vertroue en 'n daad van aanbidding om jou heeltemal oor te gee en net te wees.
Wanneer ons stil is, probeer ons nie. Ons is nie besig om alles en almal om ons te probeer beheer nie. In plaas daarvan, verootmoedig ons onsself en laat die Here ons gevegte voer. Wanneer ons stil is, laat ons toe dat ons verstand rustig raak sodat ons dinge duideliker kan sien. In ons stilte vernuwe God ons krag. Wanneer ons uitgeput voel, moet ons tyd in God se teenwoordigheid deurbring om ons te help om onsself te herontdek. Soms het ons ook ekstra ondersteuning van die mense om ons nodig.
In die boek Eksodus, is daar 'n verhaal oor Moses wat die Israeliete in die geveg gelei het. Solank Moses sy staf in die lug gehou het, het die Israeliete die oorhand gehad. Wanneer hy moeg geword het en sy arms laat sak het, het die Israeliete verloor . Uiteindelik kon Moses nie meer sy arms ophou nie. Aäron en Hur het nie moed opgegee nie, maar hulle het Moses se arms ondersteun totdat die Israeliete die geveg gewen het.
Ons is nie veronderstel om alleen deur die lewe te gaan nie. Ons het mense om ons nodig wat ons sal ondersteun wanneer ons nie die krag het om voort te gaan nie. Ons het mense nodig wat ons sal aanmoedig, sal verkwik en ons geloof sal verryk op maniere wat ons nie op ons eie kon bereik nie. Wanneer ons 'n gemeenskap met Christus as middelpunt het, help ons vriende ons om God se getrouheid deur 'n ander lens te sien wat ons vertroue in Hom vermenigvuldig. En wanneer ons mismoedig voel, help hulle ons om te onthou wat die belangrikste is, naamlik wat God oor ons sê.
Moses het gevoel dat hy nie toegerus is om die Israeliete te lei nie, en hy het amper opgehou voordat sy verhaal selfs begin het. Hy was bekommerd dat hy oor sy woorde sou struikel en dat niemand hom sou volg nie. Moses het selfs met God gestry en vir Hom gesê om iemand anders te vind! God het egter Moses daaraan herinner dat hy vir hierdie doel geskep is en dat sy mond ontwerp is om te praat, te inspireer en die Israeliete na vryheid te lei. God het belowe om by Moses te bly en hom die volmaakte woorde te gee om te sê, net op die regte tyd. Hy het selfs Aäron as helper gestuur.
Wanneer ons onbekwaam voel, kan ons op dieselfde waarhede staatmaak. God het elkeen van ons met 'n doel en vir 'n doel geskep. Nie een ding van ons ontwerp was 'n fout nie. Hy het ons alles gegee wat ons nodig het om ons roeping uit te leef, en Hy het belowe om ons nooit te verlaat nie. Sy Gees lei ons altyd, en Hy is gereed om wonderwerke deur ons te doen, tot sy eer.
Miskien voel jy nou uitgeput, gestres of onbevoeg. Miskien is jy oorweldig en gereed om op te gee. Wees net stil. Neem diep asem, en draai na God. Hy sal alles voorsien wat jy nodig het. As jy moeg is, sal Hy jou rus gee. As jy ontmoedig is, sal Hy jou inspireer. As jy swak voel, sal Hy jou versterk. As jy leeg is, sal Hy jou beker weer vul. Maak die keuse om te glo dat God genoeg is.
Jy lees dalk hierdie en dink dat dit nie sal werk nie. Dat sommige wonde te groot is vir 'n vinnige oplossing. As jy voel jy is vasgevang in 'n nimmereindigende siklus en dinge nooit beter sal word nie, is dit 'n leuen van die vyand. Jesus sê vir ons dat die Satan die vader van leuens is wat kom om te steel, dood te maak en te vernietig. Maar Jesus het gekom om jou lewe te gee. Hy bied jou vrede, vertroosting en vreugde. Dit sal dalk tyd neem om heel te voel, maar glo dat God jou gebrokenheid kan en sal genees. Wanneer jy kies om op Hom te steun, selfs te midde van jou pyn, sal jy hoop vind.
Hoewel dit dikwels nie so voel nie, is alles waarmee jy te kampe het, tydelik. As jy kan leer om na jou omstandighede te kyk met 'n ewige perspektief, sal jy sien dat die moeilike dinge wat jy deurmaak net 'n oomblik is in vergelyking met die ewige vreugde wat jy in die hemel sal ervaar. Dit beteken nie dat daar nie nog oomblikke sal wees wanneer jy moeg, eensaam of onvoldoende sal voel nie. Jy kan egter op die belofte vertrou dat jou toekoms veilig is, en die krag vind om voort te gaan.
Aangaande hierdie leesplan
Selfs wanneer ons weet dat God getrou is, kan dit vir ons moeilik wees om met oop hande te lewe en ten volle op Hom met ons lewens te vertrou. Ons wil verstaan waarom dinge gebeur en ons wil beheer daaroor hê. Hierdie 5-dag leesplan sal jou help om in meer besonderhede te verstaan wie God is, wat Hy gedoen het, en wat Hy vir jou wil hê sodat jy meer op Hom kan begin vertrou.
More