Lewe Veranderd: Vertrou Op GodVoorbeeld

Living Changed: Trusting God

DAG 3 VAN 5

Vertrou Op God Wanneer Jy Nie Wil Nie

Dit is in die mens se natuur om die pad van die minste weerstand te volg. Wanneer ons die keuse kry, verkies ons dikwels om selfsugtig op te tree omdat dit die maklikste is. Inteendeel, die Christelike lewe is moeilik. God vra ons dikwels om ons selfsugtige begeertes opsy te sit en te kies wat ewige waarde het eerder as wat aardse waarde het.

Wanneer ons nie wil doen wat God ons vra om te doen nie, sê ons eintlik dat ons Hom nie vertrou nie. Miskien dink ons dat God nie weet wat Hy doen nie, of ons glo nie dat Hy ons beste belange op die hart dra nie. Hoe dit ook al sy, ons is nie alleen nie. Baie mense in die Bybel het dit moeilik gevind om God dadelik te vertrou. Daar is niks mee verkeerd om onseker te voel nie. Dit is wat ons ná daardie emosionele reaksie doen wat saak maak.

In die Ou Testament het God vir Jona die opdrag gegee om na Nineve te gaan en die mense te waarsku dat God hulle sou vernietig indien hulle nie van hulle bose weë terugdraai nie. In die Bybel lees ons egter dat Jona in die teenoorgestelde rigting gegaan het. In plaas daarvan dat hy van sy begeertes afstand doen en God se wil kies, het Jona op sy eie planne staat gemaak. Dinge het egter nie goed vir hom uitgewerk nie. Hy is uiteindelik oorboord gegooi en vir drie dae in die maag van ‘n groot vis vasgekeer voordat hy uiteindelik, in elk geval Nineve toe is.

Alhoewel die verhaal van Jona taamlik erg is, tree ons ook baie keer so op. Ons hardloop weg van God. Ons kies om Hom nie te vertrou en te gehoorsaam nie. In plaas daarvan om te doen wat vir God belangrik is, weier ons om afstand te doen van dit wat ons wil hê. Ons is egter nie altyd opstandig nie. Soms is ons bang om afstand te doen van iets, omdat ons weet dit gaan ‘n baie groot opoffering verg.

Kom ons kyk na die verhaal van Ester. Sy het die guns van die koning van Persië geniet en was in ‘n ideale situasie om die Israeliete te red toe een van die koning se beamptes hulle dood wou hê. Sy was nogtans bang. Dit was teen die wet om voor die koning te verskyn sonder sy opdrag, en hy kon haar ter dood veroordeel. Uiteindelik, het haar oom haar gehelp om in te sien dat dit haar doel was en God het haar gebruik om sy volk weer te red.

Wat God van ons vra om te doen is dikwels nie maklik nie. Dit verg opoffering van ons kant af. Dit verg 'n bereidwilligheid om nederig te wees en te erken dat ons nie alles weet nie. Dit verg vertroue. Daardie vertroue is egter nie blind nie. Ons weet wie God is en ons het alles gesien wat Hy gedoen het, sodat ons sy beloftes vir ons toekoms kan vertrou. Dit is dus ons vertroue wat ons in staat stel om gehoorsaam te wees.

Die beste Bybelse voorbeeld van gehoorsaamheid is Jesus. Omdat Hy ten volle God en ten volle mens was, wou die menslike kant van Hom nie na die kruis toe gaan nie. Hy het geweet dat daar onmeetbare pyn en verlies sou wees. Hy het God gevra, as daar enige ander manier was, om hom te spaar. Uiteindelik het Jesus egter gekies om gehoorsaam te wees en het Hy sy menslike begeertes oorgegee deur te sê: "Nie my wil nie, maar u wil."

As dit vir jou moeilik is om God te vertrou, moet jy jouself vra waarom. Is jy bang vir die onbekende? Is jy huiwerig om iets op te offer? Of is jy dalk nie bereid om jou sondige gedrag op te gee nie?

Selfs wanneer ons besef dat dit vir ons skadelik is, kan dit moeilik wees om op te hou sondig, omdat ons ten minste weet wat ons kan verwag as ons aanhou. Dit verg 'n ander soort geloof om op te hou, maar ons kan seker wees dat God iets beters vir ons aan die ander kant het. Soos ons in Jona se verhaal gesien het, lei ongehoorsaamheid dikwels tot meer hartseer, seerkry en stryd, en wanneer dit nodig is, kan God selfs ons opstandige weg blokkeer om ons na Hom terug te trek.

Daar is beskerming en seëninge wanneer ons met God wandel. Dit beteken nie dat daar geen opoffering sal wees nie. Wanneer ons kies om Christus te volg, laat ons ons ou lewenswyse agter sodat ons meer soos Jesus kan word. Ons erken dat ons lewe nie meer aan ons behoort nie, maar aan Hom. Wanneer ons sy wil kies, kan ons ons vriende, reputasie en gerief verloor. Om 'n lewe van opoffering vir Jesus te lei, is egter oorvloediger as 'n lewe sonder Hom.

Die keuse om op God te vertrou, ons aan sy wil te onderwerp en aan Hom gehoorsaam te wees, gee ons in werklikheid vryheid. Dit stel ons in staat om in sy geregtigheid te wandel, sonder skuld en skaamte. Dit help ons om met vrymoedigheid te wandel en te glo dat Hy goed is, dat sy planne vir ons goed is en dat ons toekoms veilig is. 'n Lewe van oorgawe is 'n lewe in oorvloed.

Wat weerhou jou dus daarvan om oor te gee en God te vertrou? Skuif dit opsy. Eer God met jou besluite, ongeag die koste. Kies om vandag in vryheid te begin wandel.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Living Changed: Trusting God

Selfs wanneer ons weet dat God getrou is, kan dit vir ons moeilik wees om met oop hande te lewe en ten volle op Hom met ons lewens te vertrou. Ons wil verstaan waarom dinge gebeur en ons wil beheer daaroor hê. Hierdie 5-dag leesplan sal jou help om in meer besonderhede te verstaan wie God is, wat Hy gedoen het, en wat Hy vir jou wil hê sodat jy meer op Hom kan begin vertrou.

More

Baie dankie aan Changed Women's Ministries wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.changedokc.com