Die God Wat HerstelVoorbeeld

Die God Wat Herstel

DAG 10 VAN 29

Week 2—Hoe lank, O Here?

Roep om Hulp

Lees: Habakuk 1:1–4

SOAP: Habakuk 1:2–4

"Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here, moet ek by U bly kla oor geweld voordat U red?

Waarom laat U my die onreg sien wat gedoen word, waarom kyk U toe as daar soveel ellende is?

Oral rondom my is daar onderdrukking en geweld, en word daar getwis en gebaklei.

Die wet het nie meer krag nie, en daar geskied nie meer reg nie.

Slegte mense het die oorhand oor die goeies, en so word die reg verkrag."

Oordenking

Verlede week het ons gefokus op God se vrede en verlossing wat aan die kom is. Soos ons die tweede week van Advent binnegaan, verskuif ons fokus na die werklikheid van die gebrokenheid van die wêreld. ‘n Mens sou eerder die boosheid rondom ons wil ignoreer deur besig te bly of jou aandag te laat aflei. Veral tydens Advent voel ons dalk of ons altyd moet optree asof ons gelukkig, vervuld, blymoedig en vreugdevol is.

Wat so mooi omtrent ons geloof in Christus is, is dat ons gelyktydig in albei kan leef; ons kan die pyn en gebrokenheid rondom ons aanvaar en tog vol vreugde wees omdat ons weet wat is en wie aan die kom is. As ons die gebrokenheid van ons wêreld erken en aanvaar, is ons meer bereid om die erns van wat Christus vir ons gedoen het, te erken.

Habakuk was ‘n profeet in Israel. Hy het sy eerlike vrae aan God voorgelê, want hy wou weet waarmee God besig was en waarom. Hy was oorweldig deur die boosheid om hom en wou hê God moes ingryp. Habakuk het tot God om hulp geroep en vir God gevra waarom daar soveel onreg en verwoesting om hom aan die gang was. Hy het geweet die enigste persoon na wie hy hom vir hulp kon wend, was die Here.

Advent kan vir baie van ons ‘n pynlike tydperk wees. Alhoewel ons dalk ons bes doen om vreugdevol voor te kom, kan dit ons ook herinner aan verlies, onvervulde verlange en pyn. Habakuk se woorde herinner ons dat, ongeag waarvoor ons te staan kom, ongeag wat ons dink die gepaste manier is om te reageer of op te tree, ons ons eerlike vrae na God toe kan bring. Hy ken ons gedagtes, twyfel en vrae; niks wat ons vir Hom sê sal Hom skok nie. God wil hê dat ons ons harte teenoor Hom moet oopmaak sodat Hy ons in ons pyn kan ontmoet.

Mag ons hierdie Advent onthou hoe diep ons gebrokenheid is, nie om by pyn of hartseer vas te haak nie, maar sodat ons kan dink aan ons Verlosser wat aan die kom is. Toe Christus aarde toe gekom het, het Hy ons van sonde en dood verlos. Wanneer Hy terugkeer, gaan Hy die wêreld van geweld, onreg, misdaad, verwoesting, konflik, onmin, goddeloosheid en verdorwenheid bevry. Hy sal in mag en geregtigheid regeer. Mag ons getrou op Hom wag.

Dag 9Dag 11

Aangaande hierdie leesplan

Die God Wat Herstel

Met Kersfees vier ons Christus se eerste koms, terwyl ons wag en uitsien na sy wederkoms. Ons dink aan die gebrokenheid van ons wêreld en hoe Hy herstel en heelheid gaan bring wanneer Hy kom. Ons loof Christus met vreugde omdat ons ons hoop op Hom stel. Hierdie Bybelstudie neem ons deur die Adventstyd, ‘n tydperk van wag en groot verwagting op die koms van ons ewige Koning.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans