Lewe Veranderd: Toe Jou Geboorteverhaal Nie Volgens Verwagting Verloop Het NieVoorbeeld

Living Changed: When Your Birth Story Didn’t Go As Expected

DAG 5 VAN 7

Betekenisvolle Verbintenis

Die meeste van ons verwag om met ons eerste ontmoeting dadelik ‘n hegte band met ons babas te hê, maar vir almal ontvou hierdie moeder-kind verbintenis nie dadelik nie. Alhoewel ons hulle vir ‘n hele paar maande gedra het, is dit nie ongewoon om te voel asof ons ‘n volslae vreemdeling ontmoet nie. Net soos met enige nuwe verhouding, kan dit tyd neem om ‘n hegte verbintenis met ons babas te ontwikkel.

Ek het eers ‘n dag nadat my dogter gebore is weer ‘n kans gehad om haar te sien. My man het my opgestoot tot by die neonatale intensiewesorgeenheid en my kortliks ingelig wat ek kon verwag. Sy was heelwat kleiner as wat ek haar onthou het. Ek het stip na haar onder die blou skynsel van die broeikaslig gekyk en kon net huil. Ek het my vermoë as ma in twyfel getrek, het skuldig gevoel omdat my liggaam nie gedoen het wat dit moes nie, en het verleë gevoel omdat ek haar teen hierdie situasie nie kon beskerm nie. Boonop het dit gevoel asof daar ‘n skeidsmuur tussen ons was.

Ek was in trane, terwyl my dogter se verpleegster ons voorberei het vir ons eerste persoonlike aanraking. Sy het die broeikas stadig oopgesluit, die kabels bymekaar gemaak en my dogter versigtig vir my gegee. ‘n Gulde geleentheid vir ‘n kosbare oomblik van verbintenis is onverwags beëindig toe my dogter nie ... wou ... ophou ... huil nie. Haar volgehoue gehuil het veroorsaak dat al haar lewensbelangrike liggaamsfunksies onstabiel geword het en sy weer in die broeikas neergelê moes word. My gedagtes van onbevoegdheid vir moederskap is hiermee bevestig.

Nietemin, toe ek my dogter die volgende keer gesien het, het ek meer selfvertroue gehad. Ek het presies geweet waarheen ek moes gaan en wat ek kon verwag as ek haar sien. Ek het haar vasgehou, en hierdie keer het sy nie so baie gehuil nie. Tydens my volgende besoek het ek haar vertel van ons gesin en die kamer wat tuis vir haar wag. Dag vir dag het my selfvertroue as ma toegeneem en ons ma-dogter-verhouding het verdiep.

Alhoewel die drome wat ek aanvanklik vir my verhouding met my dogter gekoester het nie gerealiseer het nie, is dit vir my bemoedigend om die ooreenkomste tussen ons verhouding en die begin van my verhouding met Jesus raak te sien. Beide moes met doelbewuste toewyding en oorgawe verdiep word.

Jeremia 29:13 sê die volgende: “Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra.” My verhouding met God het nie oornag verdiep nie, maar ek het Hom beter leer ken deur meer tyd in sy teenwoordigheid deur te bring. Soos ek Hom beter leer ken het, het ons verhouding meer intiem geword en het die bewuswording van my identiteit as God se dogter my selfvertroue versterk. So het daar ook, sedert ek toegewyd op die verdieping van ons ma-dogter-verhouding begin fokus het, ‘n besondere onafskeidbare ma-dogter verbintenis ontstaan. Wanneer ek vandag my dogter vashou, dink ek dat ek begin om die diepte en breedte van God se liefde vir sy kinders ‘n bietjie beter te verstaan.

As dit vir jou voel of daar ‘n skeidsmuur tussen jou en jou baba is, glo asseblief dat julle verhouding nie altyd so sal wees nie. As jy oorweldig of onseker voel, neem klein treetjies vorentoe. Sing jou gunstelinglied, gaan stap en maak jou baba bewus van dit wat jy waarneem, of skep geleentheid vir persoonlike aanraking. Doelbewuste tyd saam, kan en sal julle verhouding laat groei. Al het jy dadelik ‘n hegte band met jou baba gehad, is daar net soos in ons verhouding met Jesus altyd geleentheid vir groei.

Soos jy jou baba beter leer ken, onthou dat ons hemelse Vader jou ook beter wil leer ken. Gebruik hierdie tydperk in jou lewe om nader aan God te groei. Maak tyd om julle verhouding te verdiep deur met Hom te praat, sy Woord te lees en ruimte te skep om stil te word in sy teenwoordigheid.

Vader, dankie vir u genade in ons verhouding en in my verhoudings met die mense om my. Help my om nader aan U te groei. Versterk my vertroue in wie U is en in wie U sê ek is. Openbaar Uself aan my en wys my waar U alles vir my ten goede laat meewerk. In die Naam van Jesus, Amen.

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Living Changed: When Your Birth Story Didn’t Go As Expected

Ons almal het ‘n voorstelling van hoe ons dink ons swangerskap en die geboorteproses gaan verloop. Wanneer die realiteit ons voorstelling weerspreek, kan dit intense hartseer veroorsaak. Of die geboorteproses moeilik was, en of jou baba in die neonatale intensiewesorgeenheid opgeneem moes word, jou verhaal is vir God belangrik. Hierdie leesplan, uit die oogpunt van ‘n mamma wat ervaring met neonatale intensiewesorg het, sal jou ondersteun om uiting te gee aan die hartseer vanweë 'n swangerskap en geboorteproses wat jy nie kon ervaar het nie, maar wel vir jou hoop vir die toekoms bied en die seer sal genees.

More

Baie dankie aan Changed Women's Ministries wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: http://www.changedokc.com