Lewe Veranderd: Toe Jou Geboorteverhaal Nie Volgens Verwagting Verloop Het NieVoorbeeld

Living Changed: When Your Birth Story Didn’t Go As Expected

DAG 2 VAN 7

Die pad na Genesing is ‘n Reis

Het dit al ooit vir jou gevoel asof jy teen ‘n stadige tempo funksioneer terwyl die res van die wêreld by jou verby spoed? Het iemand al iets gesê of gedoen wat jou laat voel het dat jou lewe verwoes is omdat jy nog nie herstel en jou seer verwerk het nie? Ek belowe jou, jou lewe is nie verwoes nie, jy is maar net menslik. Wanneer ons traumatiese ervarings beleef neem dit tyd vir liggaamlike, geestelike en emosionele genesing en herstel om plaas te vind. Die pad na herstel en genesing is ook vir elke mens anders.

Daar was ‘n tyd nadat ek met behulp van epidurale narkose geboorte geskenk het, wat ek besef het dat ek nie gesond is nie. Ek kon nie wakkerbly nie en het nie krag gehad om regop te sit nie. My verpleegster het my vrae gevra, maar ek kon nie ‘n woord uitkry nie. Meteens was ek bewusteloos.

Toe ek later my bewussyn herwin, het my man my hand vasgehou en baie naby aan my hard uitgeroep: “Jy kan dit nie aan my doen nie! Jy moet wakker word! Word wakker!” Daar was paniek en angs op sy gesig te lees. Ek het hom nog nooit so bang gesien nie. Net soos ek, was hy ook vreesbevange dat ek sou doodgaan.

Na die verloop van ‘n jaar het my man my een aand uitgeneem om te gaan fliek. Teen die einde van die vertoning was daar ‘n emosionele toneel waar een van die beseerde karakters op haar rug gelê het, terwyl haar geliefde vreesbevange oor haar gebuk het. My hart het baie vinnig begin klop en ek het vasgekeer gevoel. Ek het in my sitplek opgekrul en saggies begin huil. My man het gedink ek voel bloot emosioneel oor die fliek, maar my emosies het glad nie daarmee verband gehou nie. Ek het meteens gevoel asof ek weer in my hospitaalbed was — vreesbevange dat ek dalk nie sou bly lewe nie.

Die nadraai van trauma is interessant, omdat 'n mens dit in vlae kan beleef. Soms voel dit asof ek van die gebeure herstel het, maar dan is daar ook weer tye wat ek beslis nie goed voel nie. Ek kan nie altyd voorspel wanneer sekere ervarings weer hartseer herinneringe sal oproep nie, maar ek het geleer dat daardie oomblikke deel van my pad na herstel en genesing gaan wees.

Een van my gunsteling name vir God is Yahweh-Rapha wat beteken dat ons ‘n Vader het wat liggaamlike en emosionele genesing en herstel moontlik maak: “Ek sal jou gesond maak, jou wonde genees, sê die Here …” (Jeremia 16:33). Ek het soveel waardering vir die sorgsame manier waarop God met ons werk as dit by ons genesing kom. Hy dwing niks op ons af waarvoor ons nie gereed is nie en Hy help elkeen van ons om gesond te word en te genees op ons eie unieke manier. God werk geduldig met ons en hanteer een ding op ‘n slag en presies op die regte tyd, al neem dit weke, maande, of selfs jare.

Psalm 30:3 (AFR83) sê die volgende vir ons: “Here my God, ek het na U geroep om hulp en U het my gesond gemaak.” Ons Vader weet nie net van ons seer nie, Hy stap die pad van seer saam met ons en genees ons seer.

Wanneer jy frustrasie beleef, onthou dan dat herstel en genesing ‘n lewenslange reis is en nie ‘n eenmalige gebeurtenis nie. Herstel en genesing gebeur nie dadelik nie, maar is ‘n proses wat voortdurend verander. Rus egter elke dag en elke oomblik in die wete dat God jou raaksien, jou hoor en verstaan. Glo en vertrou dat die groot Geneesheer besig is om jou te herstel en te genees.

Vader, ek dank U dat U deel is van my pyn en seer. Ek het u genesende hand in my lewe nodig. Genees asseblief dit wat my fisiek en emosioneel siek gemaak het. U weet wat ek nodig het en wanneer ek dit nodig het. Ek kies vandag om op U en u genesende krag te vertrou om liggaamlik en emosioneel te herstel en gesond te word. Ek vra dit in die Naam van Jesus. Amen.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Living Changed: When Your Birth Story Didn’t Go As Expected

Ons almal het ‘n voorstelling van hoe ons dink ons swangerskap en die geboorteproses gaan verloop. Wanneer die realiteit ons voorstelling weerspreek, kan dit intense hartseer veroorsaak. Of die geboorteproses moeilik was, en of jou baba in die neonatale intensiewesorgeenheid opgeneem moes word, jou verhaal is vir God belangrik. Hierdie leesplan, uit die oogpunt van ‘n mamma wat ervaring met neonatale intensiewesorg het, sal jou ondersteun om uiting te gee aan die hartseer vanweë 'n swangerskap en geboorteproses wat jy nie kon ervaar het nie, maar wel vir jou hoop vir die toekoms bied en die seer sal genees.

More

Baie dankie aan Changed Women's Ministries wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: http://www.changedokc.com