Lewe Veranderd: Toe Jou Geboorteverhaal Nie Volgens Verwagting Verloop Het NieVoorbeeld
Ware Krag
As ma’s kan ons dikwels onder die indruk verkeer dat ons in beheer moet bly en almal in alles tevrede stel. Ek dink ons voel so omdat ons daarvan hou dat ander van ons hulp afhanklik is, maar ook as gevolg van ons trots. Ons wil nie as onbekwaam bestempel word nie, maar die waarheid is dat daar juis krag in lê om hulp te vra.
Vroegoggend, nadat my baba gebore is, het ek wawyd wakker na die plafon in my hospitaalkamer gestaar. Vertwyfeld het ek probeer om die samehang van wat gebeur het te verwerk. My baba is sopas gebore maar sy was nie in my arms nie. Ek het geen verbintenis tussen ons aangevoel nie en sy het vir my soos ‘n vreemdeling gevoel. Terwyl sy in haar broeikas ‘n verdieping bokant my gelê het, het ek daaroor begin tob dat sy haar dokters waarskynlik beter ken as vir my. Sou sy my nogtans nodig hê as hulle haar versorg? Ek het die leuen begin glo dat sy en my man my nie nodig het nie. Dat ek nie vir hulle belangrik is nie.
‘n Paar uur later, het my verpleegster ingekom en wou weet hoe dit met my gaan. Hoe moeilik dit ook al was om my gedagtes en gevoelens hardop uit te spreek, het ek besluit om eerlik te wees en om hulp te vra. Dit was vir my ‘n verleentheid om my gedagtes met haar te deel, maar ek het geweet dat hulle nadelig vir my gesondheid is. Ek was bewus daarvan dat my gedagtes in kombinasie van postpartum depressie, angs en psigose, ‘n ongewenste uitwerking sou hê. Daarom, het ek gekies om die maklike uitweg van stilbly prys te gee en om my gedagtes en emosies te kommunikeer.
Moederskap en trauma kan mens afgesonder laat voel. Die Satan staan bekend as die vader van leuens, en wil ons laat glo dat ons alleen ons gedagtes en gevoelens moet verwerk. As hy kan verhoed dat ons daaroor praat, dan slaag hy daarin om ons te isoleer. As hy daarin slaag, kan hy ons weerhou om God se waarheid te ken. Wanneer ons ander betrek by dit wat ons ervaar, kan hulle ons help om ons aandag te vestig op die Bybelse waarheid wat ons sal vrymaak van die vyand se leuens.
In 2 Korintiërs 10:4b-5 staan: “… Daarmee vernietig ons die redenasies van elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.”
Jy is werklik nooit alleen nie, want God sal jou nooit verlaat nie. Jy is ook nie gebroke nie, want God noem jou sy meesterstuk. In werklikheid is Jesus nie ontsteld oor enige van jou gedagtes nie. Geen emosie is te oorweldigend vir Hom om te hanteer nie. Hy is bly oor elkeen van jou vrae.
My pastoor verwoord dit so: “Die Satan verkondig sy leuens luid, terwyl God sagkens die waarheid fluister. Hoekom fluister God? Omdat Hy naby aan jou is.” Jesus is Immanuel, wat “God by ons” beteken. Hy is by jou. Hy is naby en Hy fluister die waarheid in jou hart.
Indien jy worstel met geestesgesondheid of voel jy het professionele hulp nodig, is dit my gebed dat hierdie boodskap jou sal aanmoedig om beheer te neem. Om hulp te vra getuig nie van onbekwaamheid nie; veel eerder van krag. Moenie jou seer geheim hou nie. Moenie na die Satan se leuens luister nie. Moenie stilbly nie. Praat daaroor met jou eggenoot, ‘n vriend, betroubare kollega of gesondheidspraktisyn en vra om hulp. Deel jou seer met God. Hy is altyd naby en altyd gereed om te luister.
Vader, in my diepste nood weet ek U is hier. Help my om al my gedagtes gevange te neem tot gehoorsaamheid aan U. Help my om te onderskei tussen u waarheid en die Satan se leuens. Ondersteun my om moedig om hulp te vra. Help my om sonder vrees beheer te neem. In die Naam van Jesus. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Ons almal het ‘n voorstelling van hoe ons dink ons swangerskap en die geboorteproses gaan verloop. Wanneer die realiteit ons voorstelling weerspreek, kan dit intense hartseer veroorsaak. Of die geboorteproses moeilik was, en of jou baba in die neonatale intensiewesorgeenheid opgeneem moes word, jou verhaal is vir God belangrik. Hierdie leesplan, uit die oogpunt van ‘n mamma wat ervaring met neonatale intensiewesorg het, sal jou ondersteun om uiting te gee aan die hartseer vanweë 'n swangerskap en geboorteproses wat jy nie kon ervaar het nie, maar wel vir jou hoop vir die toekoms bied en die seer sal genees.
More