Vreugde vir vandag: 14 vreugdevolle dae met GodVoorbeeld

Vreugde vir vandag: 14 vreugdevolle dae met God

DAG 7 VAN 14

“Geniet wat jy het”

Mense wat tevrede is met wat hulle in die lewe het, bekommer hulle nie oor hoe hulle besittings met die besittings van ánder vergelyk nie. As jy die dinge op prys stel en waardeer wat jy het en nie gedurig bly hunker na wat jy nié het nie, sal jy ’n gelukkige mens wees.

Daar is twee soorte mense: dié wat tevrede is met wat hulle het en dit met blydskap geniet, en die ontevredenes wat altyd na meer en beter hunker. Vanselfsprekend is eersgenoemde gelukkige mense en bly laasgenoemde ongelukkig.

Terwyl hulle in die woestyn rondgeswerf het, het God vir sy volk alles voorsien wat hulle nodig gehad het sodat hulle nooit gebrek gely het nie. Die psalmdigter getuig dan ook dat die Here steeds alles wat sy kinders nodig het in oorvloed sal voorsien (Ps. 81:11).

Ook vir jou wil God van die nodige dinge voorsien – in ’n oorvloedige mate. Geniet dus alles wat Hy so mildelik vir jou gee, wees bereid om dit wat jy het met ander wat minder het te deel en vergeet van al daardie dinge wat jy ontbeer. “Wees tevrede met wat julle het. God het self gesê: ‘Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie’” (Heb. 13:5, Bybel in Afrikaans 1983/1992). Hoe meer tevrede jy is, hoe gelukkiger sal jy wees.

GEBED: Hemelse Vader, ek is jammer dat ek nog so dikwels ontevrede is met my besittings en myself gedurig vergelyk met dié mense wat meer as ek het. Dankie dat U nog altyd vir my dié dinge wat ek nodig gehad het in oorvloed gegee het. Amen.

Hierdie oordenking is geneem uit BLOEISELS VAN HOOP deur Nina Smit © Christelike Uitgewersmaatskappy.
Dag 6Dag 8

Aangaande hierdie leesplan

Vreugde vir vandag: 14 vreugdevolle dae met God

Om werklik gelukkig te wees en met blydskap te leef, is waarna elkeen van ons streef. Wanneer ons God se leiding vir ons lewe aanvaar, sy gebooie gehoorsaam en die regte keuses binne sy plan vir ons maak, kan ons geluk en geloof groei. Hierdie 14-dag-plan is ’n samestelling van dagstukkies deur gewilde Suid-Afrikaanse skrywer Nina Smit. Elke dag bevat ’n Skrifverwysing, ’n oordenking oor geluk en ’n slotgebed. Hierdie oordenkings is geneem uit Nina se dagboek BLOEISELS VAN HOOP.

More

Ons wil graag Nina Smit / Christelike Uitgewersmaatskappy bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.cumbooks.co.za/