Vreugde vir vandag: 14 vreugdevolle dae met GodVoorbeeld

Vreugde vir vandag: 14 vreugdevolle dae met God

DAG 14 VAN 14

“Die beste lê nog voor”

Volgens David Niven het navorsers ’n langtermynstudie van Noord-Kaliforniërs gemaak. Hulle het oor ’n tydperk van 30 jaar vir die inwoners gevra wanneer hulle die gelukkigste was. Elke keer het agt uit tien mense geantwoord: “Ons is nou op ons gelukkigste.”

Mense wat die geheim geleer het om elke oomblik voluit te leef en bewus te wees van elkeen van hulle seëninge is mense wat elke dag van hul lewe gelukkig is. Hou dus op om terug te gryp na die verlede óf om te dink dat môre vir jou gelukkiger sal wees as vandag en geniet elke dag van jou lewe ten volle.

Christene het egter die versekering dat die beste nog vir hulle voorlê, want ons weet mos dat die hemel op ons wag. Ook al kry jy dalk op die oomblik só swaar dat jy dit met die beste wil ter wêreld nie kan regkry om gelukkig te wees nie, kan jy weet dat daar ware geluk vir jou wag: “Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly” (2 Kor. 4:16-17, Bybel in Afrikaans 1983/1992).

Wees bly oor die hemelse heerlikheid wat vir jou in die toekoms wag!

GEBED: Here, U weet dat ek soms baie sukkel om bly te wees. Ek loof U vir u belofte dat die beste nog vir my voorlê. Amen.

Hierdie oordenking is geneem uit BLOEISELS VAN HOOP deur Nina Smit © Christelike Uitgewersmaatskappy.
Dag 13

Aangaande hierdie leesplan

Vreugde vir vandag: 14 vreugdevolle dae met God

Om werklik gelukkig te wees en met blydskap te leef, is waarna elkeen van ons streef. Wanneer ons God se leiding vir ons lewe aanvaar, sy gebooie gehoorsaam en die regte keuses binne sy plan vir ons maak, kan ons geluk en geloof groei. Hierdie 14-dag-plan is ’n samestelling van dagstukkies deur gewilde Suid-Afrikaanse skrywer Nina Smit. Elke dag bevat ’n Skrifverwysing, ’n oordenking oor geluk en ’n slotgebed. Hierdie oordenkings is geneem uit Nina se dagboek BLOEISELS VAN HOOP.

More

Ons wil graag Nina Smit / Christelike Uitgewersmaatskappy bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.cumbooks.co.za/