Bevryding van VergelykingsVoorbeeld
Ons teksvers is een wat dikwels aangehaal word, maar ek glo ons loop voortdurend die dieper betekenis mis van wat gesê word. Kom ons kyk 'n bietjie daarna.
Jeremia 1:5 sê: "Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.”
Hierdie vers word dikwels as argument gebruik dat lewe in die baarmoeder begin, maar as jy dit in diepte bestudeer, sien jy iets meer diepsinnig. Dit sê: VOORDAT ons in die moederskoot gevorm is, het God ons geken. Met ander woorde, voordat die sperm en eiersel bymekaar uitgekom het ... voor bevrugting ... het God ons geken. God het ons aan Hom gewy voordat ons gevorm is. Daar was dus 'n doel met ons identiteit voor ons nog gevorm is. Hoe aangrypend is dit nie?!
Ondanks hierdie wonderlike waarheid, word baie van ons as oorspronklikes gebore, maar leef egter ons hele lewe lank as namaaksels, net as gevolg van toksiese vergelykings. Ek is nie 'n uitsondering nie. Ek het dit vir jare lank gedoen, sodat ek 'n beduidende bedrag geld spandeer het om my boude te vergroot. Ja, jy het reg gelees. As 'n swart kind en jongmeisie is ek dikwels gespot oor my plat boude. Toe ek oud genoeg was en genoeg geld gehad het, het ek besluit om die probleem met 'n operasie op te los. Daar was egter een groot probleem.
Tydens die vlug op pad na Los Angeles waar die operasie gedoen sou word, het ek die Here hoor sê: "Nona, as Ek wou gehad het dat jy groot boude moes hê, sou ek dit vir jou gegee het. Ek het dit nie vir jou gegee nie sodat jy nederig kan bly." Ek ken die stem van God en moes eintlik dadelik besluit het om nie voort te gaan nie. Ek het egter vir God gesê: "Here, ek sal nederig bly ... al het ek groot boude." Na ses maande en al die geld wat spandeer is, gelykstaande aan 'n kar se prys, het my boude verdwyn. Toe ek weer met my strawwe oefenprogram begin, het ek al die vet verbrand wat in my boude ingespuit was.
Ek kan nou daaroor lag, maar 'n terugblik wys my hoe die mag van toksiese vergelyking my hart beïnvloed het. Dit het my laat glo dat indien ek 'n sekere liggaamlike voorkoms gehad het, ek uiteindelik aantreklik sou wees. Daar is egter iets wat ons in gedagte moet hou: om perfek te wees, is nie gegrond op ander mense se mening oor jou nie, maar hoe jou Skepper jou sien.. God het my perfek geskape vir die doel wat Hy vir my in gedagte gehad het. Plat boude en al! Dieselfde geld vir jou. Selfs jou gebreke en onvolmaakthede dien 'n doel in God se hande. Dis die rede hoekom 'n lewe sonder vergelykings vereis dat ons ons tekortkominge sien as 'n doelbewuste geskenk uit God se hand.
Voor ons volgende sessie, kan jy bid dat God jou help om jouself te sien soos Hy jou sien. Perfek.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Deur middel van hierdie 5-dag leesplan, Bevryding van Vergelykings, gee skrywer Nona Jones praktiese insig en eenvoudige bemoediging om jou te help om op te hou om jou met ander te vergelyk en eerder 'n bevrydende, vreugdevolle lewe na te jaag — om met selfvertroue te leef en te weet wie God jou geskep het om te wees. Jy kan die boek "Killing Comparison" te koop kry as jy die volle vrymakingsreis wil meemaak.
More