Lewe Veranderd: Tydens KersfeesVoorbeeld
Vreugde
Die gesing van Kersliedere skep die indruk dat dit 'n tyd is om vrolik te wees. Nie almal het egter iets om oor opgewonde te wees nie en niemand kan die hele tyd gelukkig wees nie. Alhoewel geluk kom en gaan, afhangende van wat in ons lewens gebeur, kan ons genadiglik altyd vreugde ervaar.
In ons kultuur wissel geluk en vreugde mekaar dikwels af, alhoewel dit nie dieselfde is nie. Ons voel dalk goed wanneer die weer lekker is, wanneer ons kinders na ons luister, wanneer ons op vakansie gaan of wanneer ons 'n nuwe motor koop. Maar dit is oppervlakkige geluk. Vreugde is iets veel dieper. Dit is nie gebaseer op ons omstandighede nie. Dit het niks met die voelbare dinge van hierdie wêreld te doen nie. Vreugde is alleenlik op Christus gebaseer. Ons vind vreugde in ons verlossing en die opoffering wat ons ewigheid verseker het.
In die laaste oomblikke voor Jesus gesterf het, het een van die misdadigers wat ook gekruisig is, vir Jesus gevra waarom Hy Homself nie red as Hy regtig die Messias is nie. Dit was nie 'n onredelike vraag nie. Enigiemand wat 'n Romeinse kruisiging gesien het en veral iemand wat dieselfde verskriklike pyn ervaar het, sou dieselfde vraag gevra het. Hoekom dan kies om so gemartel te word as dit nie nodig was nie?
In 'n brief aan die Hebreërs, het die apostel Paulus gesê dat Jesus die kruis verduur het "... ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was ... " Hebreërs 12:2. Nee, om vir ons sondes 'n pynvolle dood te sterf, was nie iets wat Jesus geniet het nie. Sy marteling was geestelik, emosioneel en fisieke pyn. Hy het nie die kruisiging met geluk tegemoet gegaan nie, maar met vreugde. Jesus het geweet dat die ewigheid saam met die Vader en gemeenskap saam met ons, op Hom wag. Hy het vreugde ervaar omdat Hy geweet het sy dood en opstanding sal al die verraad, hartseer, pyn en dood van hierdie wêreld oorwin!
Ons kan vreugde vir presies dieselfde rede ervaar. Selfs gedurende die moeilikste tydperke, kan ons vreugde ervaar omdat ons weet ons het 'n ewige hoop en toekoms. Jesus het aan ons bewys om gelukkig te wees, beteken nie dat ons nooit weer pyn sal ervaar nie. Geluk en pyn gaan gereeld hand-aan-hand. As volgelinge van Christus, kan ons egter verby die pyn kyk, na wat aan ons belowe is, met die wete daar is nog meer van God op pad. Eendag sal ons met Hom herenig word op 'n plek waar daar geen hartseer, trane of pyn sal wees nie.
Tydens hierdie Kerstyd is jou skoonfamilie dalk baie krities, jy is dalk in die middel van 'n finansiële krisis of jy sukkel met die wete van 'n angswekkende diagnose. Of miskien vind jy dit dalk net moeilik om gelukkig te wees. Dit maak nie saak waardeur jy gedurende hierdie Kerstyd gaan nie, weet net dat God verstaan. Hy sien jou, Hy is lief vir jou, en sal jou nooit in jou seer alleen laat nie. Selfs te midde van jou hartseer, kan jy steeds vreugde ervaar want jou ewigheid is deur God belowe en aan sy beloftes is Hy getrou.
Aangaande hierdie leesplan
Gedurende die gewoel ter voorbereiding van die feestyd is dit maklik om die ware betekenis mis te kyk van dit wat ons vier. In hierdie 5-dag adventleesplan delf ons dieper in die beloftes wat deur die geboorte van Jesus vervul is en ons hoop op die toekoms. Terwyl ons verder leer oor wie God is, ontdek ons ook hoe om gedurende die feestyd met geloof, hoop, vreugde en vrede te leef.
More