Lewe Veranderd: Tydens KersfeesVoorbeeld

Living Changed: At Christmas

DAG 2 VAN 5

Hoop

As Christene vier ons Kersfees om die hoop wat ons in Jesus het te onthou. Waarom is dit dan so maklik om hierdie tyd van die jaar so sonder hoop te voel? Miskien is dit omdat ons nie ten volle verstaan wat hoop werklik is en waar dit vandaan kom nie.

Jeremia 29:11 is een van die bekendste Bybelverse oor hoop. Dit lui: "Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!"

Dit is nie net mooi woorde wat ons kan raam of op 'n koffiebeker kan plak nie. Hierdie woorde is beloftes van God waaraan ons kan vashou wanneer ons sonder hoop voel. Al was hierdie woorde oorspronklik aan die Israeliete gerig wat onder Babiloniese ballingskap was, is God vandag nog steeds dieselfde as in daardie tyd. Juis omdat sy karakter dieselfde bly, kan ons vertrou dat sy beloftes nog steeds vandag vir ons waar is.

Ons vind God se beloftes aan ons oral in die Ou Testament. Oor en oor, in die verhale van sy mense, wys God aan ons wie Hy is en bewys Hy dat Hy betroubaar is.

Een van God se eerste beloftes aan ons in Genesis, is wanneer God sê dat Hy deur Abraham al die nasies op die aarde sal seën. Wat God hierdeur sê, is dat die Messias 'n afstammeling van Abraham sal wees en Hy sal die mensdom red van hulle sondes — nie net die Jode nie, maar enigiemand wat in Hom glo. In die Nuwe Testament sien ons bewyse dat God getrou is aan sy woord. Die evangelie van Matteus wys ons dat die geslagsregister van Jesus ver teruggaan tot by Abraham en in die evangelie van Johannes lees ons dat wie in Jesus glo die ewige lewe sal hê. Ons God hou sy beloftes. Hy is ons lewende hoop.

Hoop is nie van materiële dinge of die leë beloftes van hierdie wêreld afkomstig nie. Ware hoop is gevestig in die wete dat ons vir ewig saam met Jesus sal lewe. In vergeleke met die ewigheid in die hemel, is ons huidige omstandighede klein en binne in 'n oogwink verby. Alhoewel dit nie beteken dat ons nie sal seerkry nie, beteken dit wel dat ons kan kies om verby ons huidige pyn te kyk na 'n beter toekoms wat op ons wag.

Waardeur jy ook al gedurende hierdie feestyd gaan, moet jy jou hoop op God se beloftes van hoop vestig. Hy sal jou nooit verlaat of in die steek laat nie. Hy sal jou altyd vergewe en sal jou altyd lei. Hy is jou krag, jou rots en jou beskermer. Wanneer jy voel asof jy nooit genoeg kan doen nie, genoeg sal hê nie of genoeg kan wees nie, onthou dat hierdie struikelblokke net tydelik is en dat daar 'n wonderlike ewigheid vir jou by God wag. God het jou oneindig lief en hunker daarna om tyd met jou deur te bring. Onthou dat Hy aan jou 'n toekoms belowe het en dit is beter as wat jy jouself ooit sal kan voorstel.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Living Changed: At Christmas

Gedurende die gewoel ter voorbereiding van die feestyd is dit maklik om die ware betekenis mis te kyk van dit wat ons vier. In hierdie 5-dag adventleesplan delf ons dieper in die beloftes wat deur die geboorte van Jesus vervul is en ons hoop op die toekoms. Terwyl ons verder leer oor wie God is, ontdek ons ook hoe om gedurende die feestyd met geloof, hoop, vreugde en vrede te leef.

More

Baie dankie aan Changed Women's Ministries wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.changedokc.com