Lewe Veranderd: Tydens KersfeesVoorbeeld
Geloof
Dit is maklik om in die gewoel van die Kerstyd vasgevang te word en die ware rede waarom ons feesvier te vergeet. Hoe graag ons ook al 'n lig vir die mense om ons wil wees, is dit soms moeilik om die druk te weerstaan wat hierdie tyd van die jaar op ons geplaas word. In plaas daarvan om voortdurend angstig, kwaad en beledig te voel, kan ons geloof in Jesus ons help om hierdie feestyd anders te ervaar.
In sy brief aan die Efesiërs 6:14-17, het die apostel Paulus ons insig gegee oor hoe ons geloof ons perspektief kan vorm, wanneer hy ons aanmoedig om elke dag die volle wapenrusting van God aan te trek. Hy lys die wapenrusting een vir een: "die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer. Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God." Elke item herinner ons aan die krag en beskerming wat ons deur Christus het.
Wat interessant is, is dat die een item van die wapenrusting wat Paulus meer in diepte beskryf, is die skild van geloof. Hy verwys daarna dat dit die krag het om: ''al die brandpyle van die Bose [te] kan afweer'". Staan vir 'n oomblik stil om hierdie prentjie in jou geestesoog te sien. Brandende pyle wat op jou afstuur en met een beweging van jou skild word hulle heeltemal onskadelik afgemaak. Ons geloof is 'n kragtige wapen teen die aanslae van ons vyand!
Soms voel ons onseker oor wie die vyand is. Ons blameer dalk die onbeskofte vakansieganger, ons werkgewer wat ons net voor Kersfees afbetaal het, of die familielid wat ons gedurig kritiseer. Tog is die mense om ons nie ons ware vyande nie. Die ware vyand is die duiwel wat rondsluip soos 'n brullende leeu om ons vreugde te steel, ons hoop dood te maak en ons vrede te vernietig. Dit is 'n angswekkende waarheid, wat ons ernstig moet opneem, maar ons hoef nie bang te wees nie. Ons God is groter as enigiets wat ooit teen ons te staan kan kom.
Alhoewel die wapenrusting 'n geskenk van God is wat ons beskerm, moet ons dit nog steeds pligsgetrou aantrek. Dit kan so eenvoudig wees as 'n daaglikse gebed:
“Vader, ek erken dat ek in 'n geestelike stryd is en vertrou op U vir beskerming. Ek sit die gordel van waarheid aan; help my om net die waarheid te hoor en ook net die waarheid te praat. Ek trek die vryspraak van God as borsharnas aan; bewaar my hart en help my om ontvanklik te wees vir u leiding. Ek trek die skoene van vrede aan; help my om ander van U te vertel en vrede te bring waar ek ook al mag gaan. Ek trek die skild van geloof aan; help my om my vertroue in U te plaas en beskerm my teen die aanslae van die vyand. Ek sit die helm van verlossing op; bewaak my gedagtes en help my om slegs te dink aan dit wat goed is. Ek tel die swaard van die Gees op; help my om die Woord te onthou en te gebruik om myself en ander te beskerm. Amen! ”
Laat ons hierdie Kersfees waaksaam wees teen die aanslae van die vyand. Onthou, jou stryd is nie teen diegene om jou nie. Bly gefokus op die waarheid dat God jou liefhet sodat jy weerstand kan bied teen enige aanslae wat jy mag beleef. Doen jou beste om lief te wees vir diegene om jou, veral dié wat onbeskof is, want jy weet nooit deur watter pyn iemand in die geheim gaan nie. Om die wapenrusting van God elke dag aan te trek sal jou hiermee help.
Voor jy gaan inkopies doen, trek die wapenrusting aan. Voor jy 'n moeilike gesprek voer, trek die wapenrusting aan. Voor jy by jou familie opdaag, trek die wapenrusting aan. Voor jy moedeloos voel, voor jou geduld opraak en voor jy uit woede reageer, trek die wapenrusting aan. Ons kan ten volle vertrou op sy wapenrusting en die krag van ons geloof. Wanneer ons op God vertrou vir krag, sal Hy getrou wees en ons beskerm.
Aangaande hierdie leesplan
Gedurende die gewoel ter voorbereiding van die feestyd is dit maklik om die ware betekenis mis te kyk van dit wat ons vier. In hierdie 5-dag adventleesplan delf ons dieper in die beloftes wat deur die geboorte van Jesus vervul is en ons hoop op die toekoms. Terwyl ons verder leer oor wie God is, ontdek ons ook hoe om gedurende die feestyd met geloof, hoop, vreugde en vrede te leef.
More