Lewe Veranderd: Tydens KersfeesVoorbeeld

Living Changed: At Christmas

DAG 5 VAN 5

Vrede

Hoe voel jy wanneer jy aan die Kersseisoen dink? Dalk is jy vol afwagting, hoop en vreugde. Of, soos baie ander, voel jy dalk moeg, oorweldig en gespanne. Alhoewel dit nie ongewoond is om gedurende hierdie tyd van die jaar angstig te voel nie, wil God vrede vir ons hê.

Voor sy dood en opstanding, het Jesus vrede aan ons belowe. Die probleem is dat baie van ons nie weet hoe om op 'n daaglikse basis daartoe toegang te verkry nie. Ons weet ons is veronderstel om ons bekommernisse aan God te gee, maar dit is makliker gesê as gedaan — veral dít waaroor ons die meeste bekommerd is. Hoe groter die las, hoe meer wil ons dit vir een of ander rede sélf dra. Gelukkig het Paulus in sy brief aan die Filippense ook aan ons leiding gegee hoe om ons laste aan God toe te vertrou:

"Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus."

"Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees" (Filippense 4:6-9).

Dit bevestig dat ons deur gebéd ons angstigheid vir vrede verruil. Spesifiek deur gebede van smeking en danksegging. Dit beteken dat, wanneer ons tot God nader, ons nederig moet vra vir dit wat ons nodig het terwyl ons aan Hom dankbaarheid betoon vir dit wat ons reeds ontvang het. Ons moet egter nie daar ophou nie. Wanneer ons ons angstigheid voor Hom lê, vul ons weer ons denke met gedagtes aan God. Wanneer ons op hierdie wyse bid, mag ons dalk nie die presiese antwoord kry waarvoor ons gehoop het nie, maar ons kan op God vertrou om getrou te wees om aan ons vrede te gee.

Hierdie gedeelte is bedoel vir jou — waardeur jy ook al gaan. Dit beklemtoon om oor niks besorg te wees nie. Absoluut niks nie. Alles wat jy nou moet trotseer, is hierby ingesluit. As dinge moeilik gaan in jou huwelik, wees oor niks besorg nie. As jy hierdie jaar nie geskenke kan bekostig nie, wees oor niks besorg nie. Indien jy op die uitslae van toetse wag, wees oor niks besorg nie. Die spanning, druk en seer van die vakansie — dit is alles ingesluit.

God wil elke greintjie angstigheid van jou af wegvat en aan jou vrede gee. Nie eers eendag of in die toekoms nie, maar nou! Praat met Hom. Indien jy nie weet waar om te begin nie, begin deur dankie te sê aan God vir Jesus wat Hy as geskenk gegee het, asook vir jou verlossing. Dank Hom dat Hy altyd aan jou sy is en vir sy onbaatsugtige liefde. Sê dankie dat Hy altyd voorsien, vir sy beskerming en ook vir alles wat goed is in jou lewe! Wanneer jy God loof, het dit die mag om jou perspektief te verander! Dít is hoe jy, te midde van jou worsteling, toegang tot vrede vind.

Kies om hierdie Kersfees 'n ewige perspektief te behou. Onthou die profesieë wat deur die geboorte van Jesus vervul is en laat God se getrouheid jou met hoop vul. Trek elke dag die volle wapenrusting van God aan en laat sy krag jou beskerm teen die vyand se aanvalle. Kyk verby jou tydelike omstandighede en vind ewige vreugde in die wete dat jou ewigheid verseker is. Oorhandig al jou bekommernisse aan God en vertrou op Hom om jou hart en denke in vrede te bewaar. Ons kan hierdie feestyd anders tegemoet gaan as ons op God gefokus bly, die beloftes wat Hy gehou het en die toekoms wat voorlê.

We pray God used this plan to minister to your heart.
Explore Other Living Changed Bible Plans
Learn More about Changed Women's Ministries

Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Living Changed: At Christmas

Gedurende die gewoel ter voorbereiding van die feestyd is dit maklik om die ware betekenis mis te kyk van dit wat ons vier. In hierdie 5-dag adventleesplan delf ons dieper in die beloftes wat deur die geboorte van Jesus vervul is en ons hoop op die toekoms. Terwyl ons verder leer oor wie God is, ontdek ons ook hoe om gedurende die feestyd met geloof, hoop, vreugde en vrede te leef.

More

Baie dankie aan Changed Women's Ministries wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.changedokc.com