Kies God, Nie Die Wêreld NieVoorbeeld

Kies God, Nie Die Wêreld Nie

DAG 6 VAN 43

Lees: Genesis 28:10–22

SOAP: Genesis 28:15

“Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou na hierdie land toe terugbring. Ek sal jou nie in die steek laat nie. Ek sal doen wat Ek jou beloof het.”

Oordenking

Jakob het sy vader en broer bedrieg. Al het sy pa hom ook geseën, was Esau steeds kwaad vir Jakob. As gevolg van sy sonde het Jakob skielik 'n vlugteling geword. Terwyl hy op sy reis vertrek het, beide om 'n vrou te vind en sy broer se woede te ontduik, het sy pa se afskeidswoorde God se seën en belofte bevestig.

Tydens sy reis het Jakob 'n sekere plek bereik en vir die nag kamp opgeslaan. Al het die plek aanvanklik van geen belang gelyk nie, het dit 'n heilige plek vir Jakob en sy nageslag geword. Dit was op hierdie plek waar Jakob se geloofsreis begin het.

God het in 'n droom aan hom verskyn en Homself en sy beloftes geopenbaar. God het vir Jakob dieselfde spesifieke belofte gegee wat Hy aan sy vader en oupa gegee het: hy sou ‘n groot nageslag hê, hy sou die land ontvang, en al die families van die aarde sou in hom geseën word. God het belowe om by Jakob te wees, hom te beskerm en hom nooit te verlaat nie.

Toe Jakob wakker word, was hy intens bewus van die goddelike ontmoeting. Hy het God se teenwoordigheid en die heiligheid van die plek erken. Die plek waar hy gerus het, was 'n dorp met die naam van Lus, maar Jakob het dit herdoop na Bet-el. Soos baie plekke wat by God se belofte betrokke is, is hierdie plek herdoop omdat dit 'n belangrike keerpunt in die vervulling van die belofte was. Dit was hier waar die Here Jakob se God geword het en Jakob belowe het om Hom te aanbid.

Jakob se geloofsreis het baie groot keerpunte gehad. Hier het God se teenwoordigheid 'n vlugteling in 'n aanbidder verander. 'n Man van bedrog het 'n man van geloof geword (hoewel hy vir baie jare met hierdie sonde sou worstel). Dit was nie die laaste keer dat Jakob 'n middernagtelike ontmoeting met God gehad het wat sy lewe sou verander nie. Jakob het belowe om hierdie oomblik en hierdie plek te onthou deur die plek met 'n klip te merk.

God se teenwoordigheid het die plek gevul waar Jakob was. Jakob het niks gedoen om God se guns te verdien nie. God het Jakob gekies en aangehou om hom na te jaag, en Jakob het in aanbidding gereageer. Wanneer ons God se teenwoordigheid deur sy Woord teëkom, behoort dit ons tot aanbidding te lei. Ons hoef nie te wag vir 'n middernagtelike ontmoeting om God se teenwoordigheid te ervaar nie. As ons volgelinge van Christus is, kan ons God se teenwoordigheid en die versekering van sy beloftes elke dag deur sy Woord en sy Heilige Gees ervaar. Hy is met ons soos Hy met Jakob was. Hy het vir ons ongelooflike beloftes in sy Woord gegee. Mag ons reageer soos Jakob, met aanbidding en toewyding.

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Kies God, Nie Die Wêreld Nie

"Kies God, Nie Die Wêreld Nie" bestudeer die lewens van twee mans, Jakob en Josef, hul gesinne en die keuses waarvoor hulle te staan gekom het. Jakob en Josef het albei ‘n spesifieke belofte van God ontvang, maar hulle het hul geloof baie anders uitgeleef. In hierdie Bybelstudie gaan ons ook ontdek hoe God se beloftes aan sy mense nooit onvervuld bly nie, selfs al verbrou hulle dikwels.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://lovegodgreatly.com/