Kies God, Nie Die Wêreld NieVoorbeeld

Kies God, Nie Die Wêreld Nie

DAG 3 VAN 43

Lees: Genesis 25:19–26; Jesaja 43:1

SOAP: Jesaja 43:1

Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.

Oordenking

Die boek Genesis verskaf aan ons 'n verslag van die skepping van die aarde en God se plan vir verlossing. Sonde het die wêreld binnegedring (Genesis 3), wat baie gevolge vir die mensdom meegebring het. God het belowe om die wêreld van sonde en die gevolge daarvan te verlos deur 'n Verlosser te stuur, een wat die vyand en die vloek van sonde eens en vir altyd sou vernietig.

God het 'n familie gebruik om sy Seun, Jesus, in die wêreld in te bring om verlossing vir die mensdom te bewerkstellig. Daardie familie het begin met 'n man met die naam Abram (wat later Abraham genoem is). God het belowe om Abram 'n groot nasie te maak, om aan sy nageslag 'n land van hul eie te gee en om die hele wêreld deur sy familie te seën. Alhoewel Abram nie die vervulling van hierdie beloftes in sy leeftyd ervaar het nie, het God steeds aangehou om sy voornemens deur Abram se nageslag te bewerkstellig. In hierdie studie gaan ons op die lewe van Jakob, Abraham se kleinseun, en sy gesin fokus. Hoewel Jakob nie die eersgeborene was nie, het God hom gekies om die een te wees deur wie Hy sy beloftes sou nakom.

Jakob se verhaal begin reeds in die moederskoot, terwyl hy met sy broer, Esau, gestoei het. Met Jakob se geboorte het hy Esau se hakskeen vasgehou. Hy is Jakob genoem, 'n woord wat soortgelyk is aan 'n Hebreeuse woord wat beteken "om die hakskeen vas te gryp, om te struikel, om te bedrieg." Jakob het letterlik Esau se hakskeen by geboorte vasgegryp en hy was bekend vir die manier waarop hy vir die grootste deel van sy lewe figuurlik die hakskene van ander deur middel van bedrog gegryp het. Soos ons die lewe van Jakob bestudeer, sal ons al die maniere sien waarop hy ander vir persoonlike gewin bedrieg het, beide uit selfsug en vrees.

God het geweet wat Jakob alles in sy lewe sou doen, en Hy het hom steeds gekies om die erfgenaam van sy groot belofte te wees. God het geweet dat Jakob 'n bedrieër sou wees. God het geweet dat hy in sy geloof sou wankel en dikwels die dinge van die wêreld bo die dinge van God sou kies. God het ook geweet dat Jakob intense geloof sou hê, dat hy Hom sou aanbid en volg, en dat hy die vader van God se uitverkore nasie sou wees.

God het 'n onvolmaakte man gekies, bekend vir bedrog, en het sy groot belofte vir die wêreld deur sy familie vervul. Soos die gebeure van Jakob se lewe in ons studie ontvou, word ons aan hierdie waarheid herinner: God hou altyd sy beloftes. Hy ken ons intiem, het ons volledig gevorm en het ons innig lief. God begeer ons gehoorsaamheid en ons geloof, maar niks kan sy voornemens stuit of Hom daarvan weerhou om sy beloftes te vervul nie.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Kies God, Nie Die Wêreld Nie

"Kies God, Nie Die Wêreld Nie" bestudeer die lewens van twee mans, Jakob en Josef, hul gesinne en die keuses waarvoor hulle te staan gekom het. Jakob en Josef het albei ‘n spesifieke belofte van God ontvang, maar hulle het hul geloof baie anders uitgeleef. In hierdie Bybelstudie gaan ons ook ontdek hoe God se beloftes aan sy mense nooit onvervuld bly nie, selfs al verbrou hulle dikwels.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://lovegodgreatly.com/