Twyfel In GodVoorbeeld
Om Tomas te Heroorweeg
Kom ons gaan terug na gister se vergelyking van 'n huis se opknapping. Stel jou voor iemand kom om die lekkasie reg te maak, maar jy het 'n paar vrae. Jy wil weet of die persoon wat in beheer van die projek is, betroubaar is, reg? Dit is geregverdig. Jy kan dalk vir 'n lys verwysings vra of bewys van werk wat hulle voorheen gedoen het.
Ons geloof werk op dieselfde manier. Ons wil almal weet dat God betroubaar is. Ons wil vertrou dat God is wie Hy sê Hy is en dat wat die Bybel sê, waar is.
Soms voel ons skaam om daardie vrae te vra, en voel dat ons meer geloof moet hê. Ons vrae beteken egter nie die einde van ons geloof nie — dit is dikwels eerder die begin. Ons sien bewyse daarvan in Tomas, een van Jesus se 12 dissipels gedurende sy lewe op aarde.
Ons weet nie veel van Tomas nie. Hy was 'n visserman, en hy het 'n slegte reputasie as "Ongelowige Tomas" gekry. Maar wat as meer daaragter skuil?
Tomas het die vrae gevra wat die meeste van die ander dissipels waarskynlik net gedink het. Hy het byvoorbeeld in Johannes 14 vir Jesus gevra hoe hulle Hom kan volg as hulle nie weet waarheen Hy op pad is nie.
Hy het die moed gehad om sy vrae en twyfel uit te spreek en sodoende het hy sy verhouding met Jesus in stand gehou. In Johannes 11 sien ons dat hy Jesus se plan in twyfel getrek het, maar dat hy in elk geval verkies het om Hom te volg.
Dan, in Johannes 20, sien ons die verslag waarvoor hy die bekendste is — die keer toe Hy getwyfel het dat Jesus uit die dood opgewek is.
Voordat ons hom veroordeel, laat ons eers stilstaan en onsself afvra hoe ons op daardie oomblik sou voel. Verbeel jou jy is Tomas. Jy het al hierdie idees oor hoe dit sal wees wanneer die Messias kom, en Jesus weerspreek al daardie verwagtinge.
Dan aanskou jy jou rabbi se afsterwe. In daardie kultuur sou 'n rabbi nader as 'n pa gewees het. Tomas was verpletter. Wat gebeur volgende? Jy hoor dat Jesus uit die dood opgestaan het.
Hoe sou jy in sy posisie gereageer het?
Tomas het natuurlik 'n paar vrae en voorbehoude gehad. Om eerlik te wees, die ander dissipels was nie juis steunpilare nie.
In Johannes 20:19, sien ons die ander dissipels saamgedrom agter geslote deure, doodbang vir die godsdiensleiers. Toe Jesus verskyn het, het hulle Hom geglo, maar hulle geloof was ook maar in 'n eb en vloei-toestand. Hoe weet ons dit? Want, soos ons gister geleer het, het sommige van hulle steeds aan Hom getwyfel — selfs na sy laaste onderrig aan hulle!
Dus: Tomas is nie op daardie stadium saam met sy vriende teenwoordig nie en hy hoor tweedehands van 'n ander dissipels van hierdie gebeure. Hy reageer met 'n bietjie skeptisisme en sê dat hy net sal glo as hy bewyse het.
Kyk net na die vriendelike en deernisvolle manier waarop Jesus op Tomas se twyfel gereageer het:
"Toe sê [Jesus] vir Tomas: 'Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig'”Johannes 20:27.
Jesus gee vir Tomas presies wat hy nodig het — deernis en bewyse.
Ja, Jesus gaan voort om diegene te prys wat sonder bewyse glo, maar Hy berispe nie vir Tomas omdat hy bewyse wil hê nie. Jesus reageer op dieselfde manier op ons twyfel.
Soos Tomas, kan ons Hom nader met ons vrae en twyfel, in die wete dat Hy vol deernis en geduldig met ons is, selfs in ons ongeloof.
Bid: Vader, ek weet dat U betroubaar is, maar ek sukkel soms om dit ten volle te glo. Gee aan my bewyse van u goedheid en getrouheid. Vandag bring ek vir U vrae oor _________. Dankie vir u barmhartigheid en geduld te midde van my twyfel. Help my om my volle vertroue in U te plaas, en wys my hoe om hierdie twyfel so te hanteer dat ons verhouding sal verdiep. In die Naam van Jesus. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Wat as twyfel nie die teenoorgestelde van geloof is nie, maar 'n poort na 'n dieper geloof? In hierdie 7-dae leesplan van pastoor Craig Groeschel se boodskapreeks, Twyfel in God, sal ons ontdek dat twyfel nie van jou 'n slegte Christen maak nie. Trouens, dit is dalk net 'n noodsaaklike bestanddeel van dissipelskap.
More