Hoe Om Verhoudings Te Laat WerkVoorbeeld
Om iemand te word teenoor om iemand te kry
Gedurende die bergrede het Jesus 'n koninkryksboodskap gelewer oor die betekenis van verhoudings met ander. Nadat Hy beskryf het hoeveel God vir die kleinste deeltjies van die skepping sorg — die wilde voëls en die veldlelies — vra Hy die volgende vraag: "Is julle nie baie meer werd as hulle nie?" Jesus sê dat God vir ons elke dag in oorvloed sal voorsien, meer as vir hulle. Ons hoef oor niks angstig te wees nie.
Ongelukkig is angstigheid gewoonlik 'n groot deel van ons lewens. Ons is bekommerd oor watter beroep ons gaan volg. Oor watter huis ons gaan hê. Oor hoe ander ons sien. Hierdie benoudheid dra ons oor in ons verhoudings. Ons bekommer ons daaroor of ons 'n spesiale iemand gaan ontmoet. Oor watter troue ons gaan hê. Oor die kinders wat ons sal moet grootmaak. Jesus sê egter ons hoef ons nie oor môre te bekommer nie, want die Vader belowe dat as ons dit 'n prioriteit maak om Hom te soek, Hy dit 'n prioriteit sal maak om vir ons te sorg.
God weet dat jy die meeste van alles 'n Skepper nodig het, nie net 'n vriend nie. As jou fokus op die Skepper is, sal jou aandag nie deur die kommer van hierdie wêreld afgetrek word nie. Wanneer jy daaraan werk om vir jou Skepper lief te wees, word jy ook die persoon wat iemand anders in sy of haar lewe wil hê.
Jy kan nie beheer wie in jou lewe inkom en hoe hulle teenoor jou optree nie, maar wat jy wel kan beheer is om die mens te word wat God wil hê jy moet wees. Jy kan baie energie vermors om daardie regte persoon te probeer opspoor, en intussen laat jy na om aan jouself te werk.
Wanneer jy jouself aan God onderwerp om jou te vorm, sal Hy jou in die rigting beweeg van die mense wat Hy wil hê jy moet ontmoet. Jy hoef nie daaroor angstig te wees dat jy iemand sal misloop omdat jy moontlik nie op die regte tyd op die regte plek is nie. As jy jouself toewy aan die proses om as mens te verbeter, werk God aan die proses om ander nader te bring. Dit wil sê, om nader aan iemand te kom, moet jy eerstens nader aan Jesus beweeg.
Die vyand sal probeer om nie net spanning in jou verhoudings te skep nie, maar ook kommer in jouself of jy inderdaad daardie spesiale persoon sal ontmoet of nie. Hy weet dat indien hy kommer oor jou toekoms kan skep, dit jou sal beroof van wat God vandag in jou lewe wou gedoen het. Die krag wat jy nodig het is nie te vinde in wat God in die verlede gedoen het nie, alhoewel dit definitief gevier moet word. Dit is ook nie te vinde in wat jy hoop God nog vir jou in die toekoms gaan doen nie, al kan jy volle vertroue daarvoor hê. Die ware krag lê daarin wat God, deur Christus, wil hê jy nóú moet wees.
Die hele wêreld is vol mense wat dink dat hulle geluk afhang van hul vermoë om te kry wat hulle dink hulle op die oomblik nodig het. Ware geluk is egter gewortel in die Vader, wat nie net kan sien wat ons nodig het nie, maar dit ook in ons lewens op die regte tyd kan voorsien. Ons het maar dieselfde behoeftes as almal op aarde. Kos. Klere. Skuiling. Ons het almal dieselfde dinge nodig — ons glo eerder net dat die oplossing daarin lê om hierdie goed na God toe te bring en te vertrou dat Hy vir ons sal sorg.
Reageer
Hoe maklik of moeilik is dit vir jou om Jesus se woorde ter harte te neem en jou nie oor die toekoms te bekommer nie? Waaroor is jy geneig om jou die meeste te bekommer?
Bekommer jy jou meer oor die verlede of oor die toekoms? Hoe word jou verhouding met Jesus deur hierdie bekommernisse beïnvloed?
Wat beteken dit vir jou om jou prioriteit om iemand te kry te verskuif na om iemand te word? Op watter terreine van jou lewe het jy God nodig om jou te vorm en te verander?
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie leesplan sluit sewe daaglikse oordenkings in. Dit is gebaseer op Louie Giglio se studieplan “Relat(able): Making Relationships Work”. In hierdie leesplan gaan ons uitvind hoe ons aanklank vind by ander mense, hoe God vrede skep in 'n tyd van stryd, en hoe ons kan help om gebroke verhoudings wat skynbaar onherstelbaar is, te herstel.
More