Hoe Om Verhoudings Te Laat WerkVoorbeeld
Die persoon in die spieël
Buiten jou verhouding met God, is die allerbelangrikste verhouding die een wat jy met jouself het. Om die waarheid te sê, partykeer is ons verhoudings met ander nie wat wonders nie, juis oor die kwaliteit van ons eie verhouding met onsself. Jy word meer beïnvloed deur wat jy van jouself dink, as wat ander van jou dink.
Voordat jy aan jou verhoudings met ander kan begin werk, moet jy eers begin by die mens wie se beeld jy in die spieël sien. In Matteus 22:37-39 sê Jesus dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Dit is gewoonlik makliker om die fokus daarop te stel om God lief te hê, en ook om ons naaste lief te hê, maar ons plaas nie genoeg klem daarop om onsself lief te hê nie. Dit is belangrik om die waarde daarvan te verstaan om God se liefde vir jou met ope arms te aanvaar, en dit te omskep in liefde vir jouself.
Deur jouself nie lief te hê nie, weerspreek jy eintlik die feit dat God jou liefhet. Dan beteken dit dat jy nie regtig God se denke oor jou verstaan nie — dat jy ‘n ontsaglike, kosbare, unieke skat is; so waardevol dat dit Jesus se pyn en opoffering werd was. Ja, God stel vir jou ‘n hoë standaard, maar Hy is bereid om genade te bewys wanneer dit toepaslik, is sodat jy jou spesiale doel, wat Hy vir jou beplan het, kan bereik.
Wanneer die waarheid van God se liefde in jou hart insink, kan jy in die spieël kyk en sê: “As God so na my kyk, gaan ek ook so na myself kyk.” Wanneer dit gebeur, erken jy wat God al klaar van jou gesê het. God weerspieël jou waarde en doel in die spieël, en dan ontvang jy en weerspieël weer wat God oor jou sê. Dit begin nie met wat jy oor jouself dink nie.
Op ‘n stadium moet jy vir jouself sê: “Ek het myself lief. Ek weet ek het nie alles in plek nie, maar ek het myself lief, net soos God my liefhet wanneer ek nie perfek is nie. God het my liefgehad toe ek probleme gehad het, dus kan ek myself met my probleme en al liefhê.” Jy moet kan dankbaar wees vir jouself, want God is dankbaar oor jou. Jy moet vir jouself kan sê dat jy ‘n waardevolle en pragtige skat is, want dit is wat God van jou dink. Jy moet vir jouself dieselfde vergifnis en genade gun as was God aan jou betoon. Jy kan nie Jesus eer deur jouself af te kraak en te verwyt nie, want Hy het alreeds die houe verduur. God die Vader, Jesus die Seun en die Heilige Gees, glo almal in jou, en hulle moedig jou aan met ‘n groot geselskap van die hemelskare!
Wanneer jy begin om jouself lief te hê, kan jy begin om die wêreld lief te hê. Om die wêreld lief te hê gebeur wanneer jy begin luister na wat God sê en begin sien wat God sien, en dan begin spreek wat God oor jou uitspreek. Dit is dus krities om jouself lief te hê, want as jy nie glo dat God jou liefhet nie, sal jy dit onmoontlik vind om ander te oortuig dat God hulle liefhet. Op die ou end sal die wêreld se begrip van Jesus se liefde, voortspruit uit die liefde wat hulle weerspieël sien in jou lewe.
Reageer
Glo jy dat God sal sê dat hy tevrede is met jou? Ervaar jy dat Hy iemand is wat jou aanmoedig? Hoekom, of hoekom nie?
“Ons eer Jesus nie deur te streng te wees met onsself nie.” Kan jy jou hiermee vereenselwig? Verwyt jy ooit jouself? Wat veroorsaak hierdie soort gedrag?
Watter idee van God se liefde weerspieël jy na die mense in jou lewe? Hoe sal ‘n sterker gevoel van waarde, vanuit God se oogpunt, ander om jou beïnvloed?
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie leesplan sluit sewe daaglikse oordenkings in. Dit is gebaseer op Louie Giglio se studieplan “Relat(able): Making Relationships Work”. In hierdie leesplan gaan ons uitvind hoe ons aanklank vind by ander mense, hoe God vrede skep in 'n tyd van stryd, en hoe ons kan help om gebroke verhoudings wat skynbaar onherstelbaar is, te herstel.
More