Hoe Om Verhoudings Te Laat WerkVoorbeeld
Die vriend wat almal graag wil hê
Ons almal het 'n geestesbeeld van die soort vriende wat ons in ons lewens wil hê. Ons wil ondersteunende vriende hê. Die soort vriende wat by ons sal staan as die lewe moeilik raak; wat ons sal aanmoedig, en nie sal afkraak nie; wat ons nie sal oordeel nie. Vandag gaan ons dit egter omkeer. Ons gaan nadink oor hoe ons die soort vriend kan word wat ander graag wil hê.
'n Vervulde lewe begin altyd deur iets te word, eerder as om iets te kry. Om met die teenoorgestelde geslag te begin uitgaan is nie om die regte lewensmaat op te spoor nie. Ook gaan die huwelik nie daaroor om die perfekte man of vrou in die hande te kry nie. Nee, in der waarheid gaan dit daaroor om die mens te word wat God wil hê jy moet wees. Dan maak dit nie saak of jy inderdaad met iemand uitgaan en trou ... of glad nie. Jy bly 'n wenner, want jy is besig om in die mens te verander wat God wil hê jy moet wees. Ons moet dus nou kyk na wat dit gaan behels om die soort vriend te wees wat ons graag in ons eie lewens wil hê.
Eerstens, moet ons opreg wees, nie vals nie. 'n Vriend wat nie skuil agter ander motiewe nie. 'n Vriend wat nie skynheilig of 'n tweegesig is nie. Wat nie vir ander vertel net wat hulle wil hoor nie, maar wat die waarheid praat.
Tweedens, moet ons 'n vriend wees wat kwaad teëwerk en goedheid vier. Ons doen dit deur twis te verminder in plaas daarvan om die vlamme aan te blaas. Ons praat die waarheid terwyl ons genade en vergifnis vermeerder, net soos wat Jesus vir ons gedoen het. Alhoewel ons nie onsself blind hou vir die waarheid nie, neem ons aan dat mense inherent goed is, en in nederigheid bereid is om te werk aan die herbou van verhoudings sonder om persoonlike wins na te jaag.
Derdens, moet ons die soort vriend wees wat vrygewig met ons hulpbronne is. Ons is bereid om te deel en kom ander se behoeftes tegemoet.
Vierdens, moet ons 'n vriend wees wat sterk staan onder enige omstandighede. Ons hoef nie aan elke rusie waarin ons genooi word, deel te neem nie. Ons kan kies om ons met hoflikheid uit stryery en twis te onttrek. Ons kan die onverwagse doen deur diegene te seën wat ons vervloek. Daar is vryheid te vind om nie terug te baklei nie. As ons God se doel volg, laat ons dit aan Hom oor om dié te hanteer wat ons vervloek. So eer ons God se grootheid en stel ons vertroue in Hom om die beste na alles om te sien.
Vyfdens, moet ons 'n vriend wees wat vrylik onder alle mense beweeg. Ons wil almal graag 'n vriend hê wat sê: "Ek kan saamvoel met dié wat op die kruin van geluk is en ook met hulle wat verpletter is. Ek kan gemaklik wees met invloedryke mense en by die minderbevoorregtes." 'n Ware vriend staan jou by in alle omstandighede, ongeag hoe jy voel. Die evangelie behandel verskillende mense dieselfde, en ons moet ook.
Sesdens, moet ons 'n vriend wees wat 'n vredemaker is. Ons moet erken dat, alhoewel dit nie in ons mag is om ander te verander nie, ons wel in staat is om onsself te verander. Ons mag dalk nie vrede hê met iemand anders nie, maar ons kan vredeliewend wees teenoor daardie persoon. En as ons in vrede teenoor daardie persoon optree, weerspieël ons die evangelie. Ons is vry.
Probeer 'n bietjie vandag om die vriend te wees wat jy graag sal wil hê. Sodoende sal jy vriende ontdek wat die krag van die evangelie in jou lewe sal raaksien, en nader aan God beweeg.
Reageer
Hoe sou jy die meeste van jou vriendskappe kon beskryf? Na watter eienskappe soek jy in 'n vriend?
Wat is volgens jou, die verskil tussen om 'n vriend te soek en om een te wees? Wat is vir jou die uitdagendste deel van vriendskap?
Noem een ding wat jy sal wil hê God in jou moet bemagtig om jou vreedsaam met almal te laat lewe?
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie leesplan sluit sewe daaglikse oordenkings in. Dit is gebaseer op Louie Giglio se studieplan “Relat(able): Making Relationships Work”. In hierdie leesplan gaan ons uitvind hoe ons aanklank vind by ander mense, hoe God vrede skep in 'n tyd van stryd, en hoe ons kan help om gebroke verhoudings wat skynbaar onherstelbaar is, te herstel.
More